Sport

Karongeluk en groot val kan Gustav nie van sy fiets afhou nie

Sy speke gaan nou in Suid-Afrika vir ander span sing.

Gustav Basson gaan die speke in Suid-Afrika laat sing.

Die gebore Nelspruiter, wat sy hoërskoolloopbaan aan HTS Middelburg voltooi het, het na ’n paar jaar oorsee, besluit om permanent terug te keer na sy geboorteland.

Ervare?

Hy het in 2019 al vir TEG Pro Cycling in die saal geklim en later ook vir Pro Touch en vanaf 2023 vir DMS Pro Cycling gejaag.

Sy loopbaan was vol hoogtepunte en laagtepunte, met meer as een groot val en ’n kar wat van agter in sy voertuig vasgery het in 2019. Hy het sy femur gebreek en was lank uit die saal.

Sy loopbaan het egter in 2014 met ’n donderslag begin, toe hy eerste was in die nasionale junior pad kampioenskappe se tydtoets.

Die volgende jaar het hy by die Afrika Spele weer eerste in die span tydtoets geëindig, tweede in die tydtoets en derde by die nasionale o/23 kampioenskappe, ook in die tydtoets.

Verskeie eerste plekke volg in plaaslike wedrenne waaronder die Groot Trap.

In 2018 by die Tour de Limpopo, is hy die eerste jong ryer en wenner van die eerste en derde skof.

Een van sy groot oorwinnings was tydens die International du Sahara Marocain en ’n skofoorwinning in die Tour of Good Hope.

In 2021 neem hy aan die Afrika pad kampioenskappe deel en behaal saam met die gemengde span in die aflos ’n oorwinning en ’n eerste plek in die span tydtoets.

Die volgende jaar wen hy by dieselfde kampioenskappe die tydtoets en is tweede in die span tydtoets.

Hy het verlede jaar derde geëindig in Boucles du Haut-Var fietswedren in Frankryk.

Maar sy Europese ekspedisie is tot ’n einde na ’n groot val in Junie hierdie jaar.

“My bors is steeds nie lekker nie,” het hy die week gesê.

Die bene is egter steeds daar. Hy het dit die naweek by Steyn City gewys, toe hy sesde was in die Suid-Afrikaanse kriterium kampioenskappe.

Hy jaag volgende jaar vir Tshenolo Pro Cycling wat in Suid-Afrika geregistreer is as die Continental span.

Daar word beplan om aan wedrenne in Afrika, Asië en Europa deel te neem.

Die eerste toer sal die Tour of Sharja wees en dan lê die Suid-Afrikaanse kampioenskappe ook voor wat al in Januarie plaasvind.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button