Christiaan (Vlokkie) Vlok is kaptein van die Tukkies span wat Vrydag in die eindstryd van die studente rugbyweek, bekend as die Ussa-week (University Sport South Africa), teen Shimlas speel.
Die gewese HTS Middelburg en Puma senter en Hoërskool Middelburg se Ben Jansen van Vuuren, is deel van ’n Tukkie span wat tot dusver sy spiere gebult het.
Jansen van Vuuren is op agsteman gekies, maar het Woensdag teen Wits in die nommer sewe trui gesak.
Hy het tot dusver in elke wedstryd ’n drie gedruk.
Die twee was ook deel van die Tuks span wat hierdie jaar die Varsitybeker gewen het.
Die span het Maandag met 51-12 teen die Pukke gewen en Maties het vasgeval teen Shimlas. Die einste Pukke, of Noordwes Universiteit, teen wie Tuks in die Varsitybeker eindstryd gespeel het.
Tuks en Shimlas speel nou more (Vrydag) om 15:10 by die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha in die eindstryd.
Die kragmeting teen die Witsies was kliphard, maar nadat hulle ’n tyd net met 5-0 voor was, het die Pretoriase sudente later die krane oopgedraai en met 22-0 gewen.