Suid-Afrika het twee atlete in vanaand se 400m finaal by die wêreld o.20 kampioenskappe in Amerika.
Een van daardie atlete is die kleinseun van Middelburgers Gys en Katryn Romijn.
Mnr. Romijn is die oudskoolhoof van Steelcrest en sy vrou Katryn was ’n geliefde leerkrag by Hoërskool Middelburg.
Kryn Romijn het ’n persoonlike beste tyd van 45.79 afgeblits om in vanaand se eindstryd in Eugene, Oregon, te wees. Hy is ’n oudleerling van Hoërskool Ermelo.

Nog ’n Suid-Afrikaner, Leendert Koekemoer, gaan saam met hom in die blokke sak in die finaal, wat om 20:53 beslis word.
Koekemoer het ’n 44.94 gehardloop.
Die jong Romijn se pa, Willem, was een van Hoërskool Middelburg se top atlete tydens sy skooldae en het in die 400m hekkies uitgeblink. Hy is deesdae ’n adjunkhoof sport en dissipline by Hoërskool Ermelo.

Die atletiekbloed loop natuurlik dik in die Romijn familie se are met ma, Marie-Louise (Henning), ’n voormalige Suid-Afrikaanse middelafstandatleet wat in die 800-meter en 1500-meter gespesialiseer het.
Sy was een van Suid-Afrika se top vroue-atlete gedurende die laat 1990’s en vroeë 2000’s. Sy het die nasionale senior 800m-titel in 1995 en weer in 1999 gewen. Soos haar seun het sy ook aan die wêreld o.20-kampioenskappe deelgeneem.