Middelburgers help Tukkies én Naka Bulle wen
Jansen van Vuuren familie deel in Groot Ben se rugbyvreugde
Groot Ben Jansen van Vuuren was Saterdag deel van Tukkies se span wat geskiedenis gemaak het teen Naka Bulle.
Die segetog het vroeg vanjaar begin, toe hulle die eerste span geword het wat ses Varsitybekertitels kon verower na ’n 31-3-oorwinning oor die NWU-Arende van Potchefstroom.
Daarna het hulle Kovsies met 43-19 afgeslag in die USSA-eindstryd en Naka Bulle Saterdag met 26-12 geklop om die gesogte Carltonbeker te verower – die eerste Tukkies-span wat dit kon vermag.
Ben het as impakspeler gehelp dat die studente aan die wenkant was.
Christiaan Vlok, wat vir HTS Middelburg senter gespeel het, is beseer toe hy vir die Blou Bulle uitgedraf het, anders was hy ook deel van die reeks oorwinnings, nadat hy in die Varsitybeker en USSA-week gespeel het.

Wat dit nog meer spesiaal vir Jansen van Vuuren gemaak het, was dat sy familie deel was van die feesvieringe.
- Jacques Muller, wat vir die HTS Middelburg-voorry gespeel het, is Naka Bulle se voorspelerafrigter.
- Twee oud- HTS Middelburg-spelers, Hanru Terblanche en Marinus Oberholzer, het Naka Bulle gehelp om die o. 20-trofee in te palm, nadat hulle Tukkies met 22-21 geklop het.

Hanro draf ook vir die Pumas se o. 21-span uit en Marinus vir die Vrystaat se jongspan. Hy het nog Vrydag vir die Vrystaters teen die Blou Bulle gespeel.
Daar is ekstra tyd gespeel nadat albei spanne met 14 punte elk gelykop was, waarna Hanro die wendrie gedruk het.
