Pumas sal Vlam en sy trawante moet stuit
Stonehouse se rugbybrein moet werk voor Curriebeker-eindstryd in Kimberley
Dit is die stryd van die losvoorspelers in Saterdag se Curriebeker-eindstryd.
Rugbyliefhebbers kan hulle lippe aflek vir ’n tweestryd soos min.
Aan die kant van Griekwas is Vlam (Lourens) Oosthuizen witwarm. Hy het Saterdag twee drieë gedruk in die Diamantvelders se halfeindstryd-oorwinning van 52-12 oor die Leeus.
Saam met sy flankmaat Marco de Witt en Carl Els op agsteman, vorm hulle ’n dodelike kombinasie.
Maar die Pumas, wat die Vrystaat Cheetahs met 27-24 in Bloemfomtein verras het, het self ’n lostrio wat sy man teen die bestes kan staan.
Briljante besluit
Puma-afrigters Jimmy Stonehouse en Corné Steenkamp het ’n briljante besluit teen die Vrystaters gemaak deur Ruwald van der Merwe en Ntsika Fisanti op die bank te kies. Toe dit saakmaak, is hulle opgestuur.
Spelers met die gehalte van Andre Goedhals en Thabo Ndimande was in die beginspan saam met hulle kaptein, Willie Engelbrecht, op agsteman.
Goedhals was uitstekend teen die Vrystaat. Sy rugby-DNS wys dat hy in groot geselskap hoort, nadat hy goeie rugby vir die Stormers se o. 21-span gespeel het.
Ndimande het voorheen vir Griekwas en die Worcester Warriors uitgedraf.
Maar dit is nie net die losvoorspelers wat vir ’n watertand-tweestryd gaan sorg nie, maar ook die senterpare.
Sy spoed en krag is ’n nagmerrie vir ander spanne
Griekwas se Zane Bester en Mnombo Zwelendaba speel tans uitstekende rugby.
Bester is die vlugvoetige, ontwykende senter met Zwelandaba wat met sy spoed en krag ’n nagmerrie is vir ander spanne.
Die Pumas het ’n soortgelyke kombinasie in Sango Xamlashe wat teenstanders met sy vlugvoetigheid in die lug laat gryp en Wian van Niekerk wat oor die voordeellyn kom met sy krag.
Daar word algemeen verwag dat Griekwas hulle Curriebeker-kroon maklik in Kimberley gaan verdedig.
Dit sal aan hulle ’n derde titel besorg.
Moenie die ou jakkals onderskat nie – Stonehouse het nou die kans om sy tweede Curriebeker-titel te wen.
Indien die Pumas in die vaste fasette kan saamgesels, is die kans daar om die beker terug te bring na Mpumalanga.
