Koeël tref wiel
'n Familie kry kou rillings as hulle dink wat kon gebeur het as 'n koeël nie die wiel nie, maar hul dogter in die voertuig getref het.
‘n Koeël het ‘n kar se wiel binnegedring in Mandela Rylaan (reg oorkant Roberts Landgoed).
Lizelle Lombard (26) het vanaf Johannesburg na Middelburg gependel om by haar ouma, Lettie Eisermann, te kom kuier.
Sy het Donderdag die pad terug Johannesburg toe aangepak en sommer vanaf Gholfsig die pad via Cowen Ntuli en Mandela Rylaan geneem om gouer op die snelweg te kom.
Terwyl sy ry, het sy op ‘n stadium ‘n silwer bakkie (dit het vir haar gelyk soos ‘n Colt bakkie) in haar truspieëltjie agter haar sien ry. Sy het egter nie veel notisie van die voertuig geneem nie.
Reg oorkant Roberts Landgoed het sy ‘n geweldige slag gehoor en haar radio sagter gesit om uit te vind waar dit vandaan kom. Haar karretjie, ‘n Ford Fiësta, het effens begin swenk en sy het stadiger gery. Op hierdie stadium het die bakkie haar verbygesteek.
Net etlike treë verder het haar voertuig erg eenkant toe begin swaai. Omdat sy vir veiligheidsredes nie wou stop nie, het sy omgedraai en stadig teruggery tot by haar ouerhuis. Daar het sy gevind dat die agterwiel pap is.
Haar ma, me. Catherine Beeslaar, sê hulle was met vakansie en het met hul terugkeer besluit om die voertuig se band te laat regmaak. Sy het haar voertuig vir Lizelle gegee om terug te keer Johannesburg toe en het die band ingeneem vir herstelwerk.
Groot was die skok toe hulle deur die besigheid in kennis gestel is dat die gat in die band veroorsaak is deur ‘n koeël. Dit het die bestuurskant se band agter binnegedring en is uit by die sierwiel aan die voorkant.
Me. Beeslaar sê hulle kan maar net spekuleer van waar die koeël gekom het. “Het iemand haar dalk probeer kaap en die band pap geskiet? Of was dit dalk ‘n opslagkoeël van iemand wat onwettig in die omgewing gejag het? Ek is so dankbaar my kind het nie gestop of iets oorgekom nie!”
• Hulle het aangedui dat hulle die gebeure by die polisie gaan rapporteer.