Editor's note

My Beurt

Mariska is 'n harde werker. Stil in die klas. Altyd netjies.

So het onderwysers jaar na jaar op die mooi blondekop meisie se rapport geskryf.

Nou is dit die jaar 2014…Mariska se laaste jaar op skool.

Dit is die jaar van die matriekafskeid met die tema: My Sprokie.

Maar Mariska se lewe was nie ‘n sprokie nie.

Sien, haar pa, Ben, is ‘n alkoholis.

Alkoholis soos in drink en drink, tot hy nie meer weet of hy Ben of Bliksem is nie.

Min mense het daarvan geweet, want Ben was in die dag netjies, het nooit werk gemis nie en het selfs Sondagskool gegee.

Sondae het hy heel voor in die kerk gesit.

Daar was al gemeentlede wat gekla het dat “Ben na drank ruik”.

Dominee het die gesin besoek.

Maar Ben het sy deel vir die kerk gedoen, ook op finansiële gebied.

Nadat Dominee by die deur uit is, het Mariska en haar ma se gemoed verder in hulle skoene gesak.

“Waar sal ons hulp vandaan kom?”

Hulle grootste bekommernis was egter Die Sprokie.

Ben het sy geld spandeer waar hy die beste dividende kon kry en ‘n matriekafskeidrok was nie een nie.

Dit sou ‘n groot hap vat uit sy drankbegroting.

Soos die matriekafskeid nader gekom het, het Mariska al stiller geword.

Al het die seuns tou gestaan om haar te vra, was haar antwoord net kortaf: “Nee”.

Maar Mariska se ma het al geleer oorleef.

Sy het by Sneeuwitjie gaan aanklop, ‘n organisasie wat matriekafskeidrokke gratis uitverhuur.

Toe Mariska een middag by die huis kom, het die rok daar gehang.

Stil-stil het nog mense betrokke geraak: Grimering, hare, selfs ‘n spa het ‘n skoonheidsbehandeling geborg.

Mariska het van niks geweet nie – net dat haar Sprokie waar geword het.

Toe haar metgesel opdaag, is sy asem weggeslaan deur dié stille skoonheid.

Die Observer se fotograaf was vroeg by die saal, reg vir die matrikulante om aan te kom.

‘n Juffrou het haar ingewag met die woorde: “Die ryk kinders is almal in die saal, jy moet hulle daar gaan afneem”.

Ryk kinders?

Ryk kinders!

Mariska was nie een van die ryk kinders nie…

(Die storie is denkbeeldig maar gebasseer op ‘n ware verhaal).

Check Also
Close
Back to top button