Sterf na Sondag-ontbyt by The Bridge

Die man wat Sondag 18 Januarie in 'n ongeluk op die Loskopdampad gesterf het, se as sal in Kranspoort gestrooi word, die pas wat hy "Carl se pas" genoem het.

“Carl het altyd gesê dat niemand vinniger as hy deur die pas kon gaan nie,” het mnr. Carel Wedemeyer Maandagoggend gesê. Sy seun, Carl (36), is Sondag omstreeks 12:30 in ‘n ongeluk sowat 50km buite Middelburg op die Loskopdampad oorlede.

Die ongeluk het gebeur kort nadat hy ontbyt gaan eet het by The Bridge (by Damwal). Hy het die oggend nog sy pa gebel en gesê dat hy, soos hy al jare op Sondae doen, ontbyt gaan eet by The Bridge. Mnr. Carel Wedemeyer en sy dogter, Cindy Porobich, was op daardie stadium by die Terra Topia Motorcrossbaan waar hulle naweke aan kompetisies deelneem.

Mnr. Wedemeyer sê sy selfoon was in sy voertuig en toe hy om 13:45 daarheen gaan om sy boodskappe na te gaan, het hy gesien dat mnr. Jacques van der Walt na hom gesoek het. Hy het die oproep beantwoord en die skokkende nuus gekry dat sy seun oorlede is.

Mnr. Van der Walt het brandstof ingegooi by die vulstasie by Damwal en gesien dat mnr. Wedemeyer by die uitgang van The Bridge met sy Ford Bantam bakkie regs draai oppad na Middelburg.

By die skerp draai naby Kranspoortdorp het mnr. Van der Walt spore in die gras gesien en dadelik gestop. Toe hy op die krans gaan staan en na onder kyk, het hy die bakkie van mnr. Wedemeyer op sy dak sien lê. Hy het afgehardloop na die voertuig, maar toe hy daar kom het hy gesien dat mnr. Wedemeyer opslag dood is in die ongeluk.

Mnr. Carl Wedemeyer (36) soos almal hom sal onthou.
Mnr. Carl Wedemeyer (36) soos almal hom sal onthou.

“Carl het vroeër jare altyd met sy motorfiets na River Cottage (nou The Bridge) gery. Hy was versot op motorfietse, maar het verlede jaar sy motorfiets verkoop, omdat hy nog nie behoorlik kon loop ná die ongeluk op 19 Augustus 2013 nie.” Dié ongeluk het plaasgevind op die hoek van Samora Machel- en Zuidstraat toe ‘n BMW voor mnr. Wedemeyer ingedraai het. Hy is etlike weke in die hospitaal behandel vir beenbreuke en het ook drie maande rehabilitasie ontvang om weer te leer loop.

Hy moes egter tot en met sy ongeluk nog met krukke oor die weg kom, omdat die breuke nog nie heeltemal herstel het nie.

Mnr. Wedemeyer was ook in Februarie en November 2010 in motorfietsongelukke betrokke. Met die een is hy ernstig beseer to palette van ‘n trok afgeval en voor sy motorfiets beland het en met die ander ongeluk het sy motorfiets in die reën gegly en ‘n voertuig getref.

Hy is beskryf as iemand wat baie lief was vir kinders en “dat kinders versot was oor hom. Carl het ook opreg omgegee vir mense en wou altyd ander help.”

Die gesin het sedert die ongeluk al meer as 100 simpatie-oproepe van motorfietsryers van regoor Suid-Afrika ontvang. Carl was welbekend, aangesien hy hordes motorfiets byeenkomste deur die jare bygewoon het.

Mnr. Wedemeyer word oorleef deur sy pa, Carel, stiefma Anita, broer Charl en suster Cindy.

Teen druktyd was daar nog nie begrafnisreëlings getref nie en persone wat navrae het, kan mnr. Carel Wedemeyer bel of sms by 082 834 5086.

Back to top button