Dagga verkoop aan skoolkinders
Lede van Groblersdal SAPD het ’n vrou van 52 jaar gearresteer, nadat hul inligting vanaf ’n skoolhoof van ’n bekende skool in die omgewing ontvang het oor dagga wat aan skoolkinders verkoop word.
Volgens konstabel Mailula, het mnr. Sakkie Venter, hoof by Living Waters Private School net buite Groblersdal op die Vaalfonteinpad, Groblerdal SAPD in kennis gestel dat dagga aan leerlinge van die skool verkoop word.
Groblersdal SAPD het na Living Waters Private School gegaan om die leerlinge van die skool te oortuig om persoon wat die dagga aan hul verkoop, bekend te maak.
Volgens konstabel Mailula is hul verwys na die padstalletjies by die T-aansluiting op die pad vanaf Dennilton na Groblersdal en Marble Hall.
Met hul aankoms, het hul ’n aantal pakkies dagga by ’n stalletjie gevind.
Die polisie het daarop aangedring dat die verdagte die hut aan die agterkant van die stalletjie oopsluit, waar hul verdere dagga gevind het.
Groblersdal SAPD het op ’n totaal van 1.65kg dagga beslag gelê en ’n 52-jarige is op toneel in hegtenis geneem.
• Groblersdal SAPD is besig met verdere ondersoek, en die verdagte sal binnekort in die hof verskyn. Haar naam mag dan eers bekend gemaak word.
