Het Suid-Afrika die brouerye leeg gesuip?
Naas stropery kan suipery waarskynlik as ’n nasionale sport beskou word. Dit lyk nou of die geweldige tekort aan sekere biersoorte, wat die sportman se gunsteling Milk Stout insluit, daarop dui dat landsburgers die SA Brouerye leeg gesuip het.

Plaaslike handelaars in die drank industrie het bevestig dat hulle vir die laaste twee maande gladnie Milk Stout in die hande kon kry nie, weens ’n landwye tekort.
Daar is nie ’n enkele drankwinkel op die dorp wat die laaste twee maande Milk Stout op hulle rakke het nie.
Veral marathonatlete sal vir jou vertel daar is niks so voedsaam as ’n Milk Stout na ’n wedloop of twee dae voor ’n wedloop nie.
• Jorge Nunes van Kanonkop Spar se Tops en verskeie ander drankwinkel eienaars, het die tekort bevestig.
Volgens hulle, is Milk Stout nie die enigste bier wat skaars is nie.
Biere en siders, wat veral in glasbottels kom, is oor die algemeen moeilik om in die hande te kry.
Die sakemanne sê beide hulle weet nie wat die tekort veroorsaak nie.
Die drank industrie het wel ’n geweldige knou gehad met die drankverbod tydens die grendelstaat, wat nie net die verkoop van drank gestaak het nie, maar ook die produksie van glas op ’n landwye vlak gestriem het.
Consol Glass het in Januarie bevestig dat die vervaardiging van glas deur die grendelstaat tot stilstand gekom het, wat tot ’n glas tekort en rantsoene op die drank industrie gelei het.
Mnr. Nunes sê dat daar nie net ’n tekort aan sekere dranksoorte is nie, maar ook sekere kossoorte.
Marmite, waarvan gars ’n belangrike bestanddeel is, is baie skaars.
Terwyl spekulasie die tekort toeskryf aan die glas tekort, het die oorlog tussen Rusland en Oekraïne ook 30% van die invoer van koring gesny, wat broodpryse die hoogte in laat skiet het.
• Navraag is aan die Suid-Afrikaanse Brouerye gerig, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.
