Comrades se nuwe datum kan chaos veroorsaak
Padwedloop organiseerders in die land was Dinsdag geskok toe ’n voorlopige wedloopprogram vir 2023 bekend gemaak is.

Wedlope vir volgende jaar is almal om die Comrades marathon beplan, wat op 20 Augustus sou plaasvind.
Volgens die nuwe bepalings word die wedloop op 11 Junie 2023 aangebied.
Dit maak die reël van die Loskop Marathon onmoontlik, soos beplan was vir 17 Junie volgende jaar.
Daar is talle rolspelers betrokke wat reeds ingeval het by die nuwe Loskop datum van 17 Junie, soos die borge, Mpumalanga Departement van Sport en Rekreasie en die Forever Loskop oord.
Die jarelange Loskop marathon organiseerder, Hein Koch, het gesê indien Comrades wel op 11 Junie plaasvind, sal dit onmoontlik wees om Loskop ’n week later aan te bied.
“Sowat tagtig persent van die Loskop deelnemers neem aan Comrades deel en sal nie in staat wees om ’n week later week ’n ultra te hardloop nie.”
Hy het moedeloos gesê dat sy hoop gevestig is op samesprekings oor twee weke waar al die wedloop organiseerders in Natal vergader, om die warboel te probeer uitsorteer.
Die Om die Dam wedloop word op 18 Maart gehardloop en die Twee Oseane op 9 April en sal nie deur die 11 Junie Comrades beïnvloed word nie.
Atletiek Mpumalanga se president, Paul Bester, sê die Comrades op 11 Junie sal chaos veroorsaak met wedloop datums in die provinsie.
Wedlope is so geskeduleer dat Loskop as laaste lang ultra voor die Comrades kan plaasvind.
Die 17 Junie datum was ideaal maar is nou in die weegskaal.
Vanjaar se Comrades word op 28 Augustus aangebied.
•Dit sal ’n tragedie wees as die Loskop marathon nie kan plaasvind nie. Die wedloop is deur Covid gekelder en daar is hard agter die skerms gewerk om die wedloop weer aan te bied, omdat dit soveel vir Middelburg se ekonomie beteken. Nashua het ook reeds as borg betrokke geraak.
