KYK: Twee koedoes gepyl in Kanonkop, een in huis se sitkamer
Die bok het verwoesting nagelaat in Broodboomstraat.
Twee koedoes het Kanonkop-inwoners al sedert vanoggend 03:00 uit die vere.
Die grootste van die twee, ’n jong bul, is ’n kort rukkie gelede deur dr. Munnik Hertzog gepyl en veilig in ’n wildswa gelaai. Die tweede een, ’n jong kalf, is ‘n straat verder verdoof. Die koedoes sal later in die Loskopdam-natuurreservaat vrygelaat word.

Die nuus van die koedoes in die omgewing is vanoggend omstreeks 03:00 op ’n Traffic Alert-groep gedeel. Die koedoe-bul en -kalf is egter van mekaar geskei nadat lede van die Dagpatrollie die bokke probeer inperk het. Mure en palissadeheinings kon die diere egter nie keer nie.

Die bul is uiteindelik in die sitkamer van ’n huis in Broodboomstraat gepyl. Hy het weens die skok deur ’n ruit gebars. Hy het later deur dieselfde ruit geklim, waarna die verdowing in die oprit ingeskop het. Dr. Hertzog het die bok met die hulp van omstanders grond toe gebring en na die wildswaentjie gedra, waar die koedoe weer bygebring is.

Groot skade is in die huis van me. Koekie van Wyk aangerig. Me. Van Wyk was reeds met haar versekeraars in kontak. Die glasmense was nog voor dr. Hertzog op die toneel, maar moes onverrigter sake omdraai omdat die koedoe toe nog in die huis was.

Bloedvlekke is regdeur die huis opgemerk waar die bok beweeg het. Die koedoebul het snye opgedoen toe hy deur die ruit is, maar dr. Hertzog het bevestig dat die wonde oppervlakkig is. Hy het ook reeds antibiotika en ander nodige behandeling aan die diere toegedien.

Die kleiner bok het homself tuisgemaak tussen ’n boot en ’n voertuig onder ’n afdak in Tambotiestraat.
Verskeie rolspelers het ingespring om te help. Dynamicx Drones het hulp vanuit die lug verleen om die bokke op te spoor. Midwit Diesel en Olie het die dieselkoste gedek van hulpverleners soos Piet Wassenaar, die bekende wildshanteerder en slangvanger van eMalahleni.
Die bokkie is nadat hy gepyl is weer af rivier se kant toe ,waar hy eindelaaste gelaai is.
Die koedoes sal nou eers in kwarantyn geplaas word om vas te stel of hulle bek-en-klouseer het voordat hulle vrygelaat word.
