Lewensredder van Middelburg sterf in R542-ongeluk
Stephan Smith (28), bekende reddingswerker van Middelburg, is op 5 Junie in ’n botsing op die R542 saam met vyf ander oorlede.

Die gemeenskap van Middelburg neem vandeesweek afskeid van een van die dorp se bekendste reddingswerkers, Stephan Smith (28).
Stephan is op 5 Junie in ’n noodlottige botsing op die R542 oorlede.
Vyf ander mense het ook in dieselfde ongeluk gesterf. Stephan was op pad werk toe toe die ongeluk plaasgevind het.
Volgens sy familie het hy uitgeswaai vir ’n voertuig wat besig was om ’n vragmotor verby te steek, waarna ’n trompopbotsing gevolg het.
Vir baie inwoners was hy ’n bekende gesig op ongelukstonele en noodgevalle.

Hy was die afgelope drie jaar ’n inwoner van Middelburg, waar hy betrokke was by Delta 1-duikredding en die N17-noodspan.
Delta 1-duikredding het hom beskryf as iemand wat altyd bereid was om mense in nood by te staan.
Volgens die organisasie sal sy nalatenskap van diens, deernis, moed en onwrikbare toewyding nog lank voortleef.
“Hy het talle in hulle donkerste ure bygestaan,” sê die reddingspan.
Buiten ’n reddingswerker was Stephan ’n geliefde seun, broer, verloofde en pa.
Hy laat sy ouers, Hannes en Juanita Smith, sy suster, Aletta, sy verloofde, Annuschka Bezuidenhout, en hulle vierjarige dogtertjie, Caily, agter.
Sy sussie het hom beskryf as iemand met ’n sprankelende persoonlikheid, ’n unieke sin vir humor en ’n hart wat altyd plek gehad het vir ander.
“Hy was soms uitspattig, soms wild, máár altyd opreg. Hy was ’n helder lig in baie mense se lewens,” vertel Aletta.
“Hy was my boetie, my held.”
Die familie sê dat hy elke dag met passie geleef en altyd net sy beste gegee het, ongeag die uitdagings wat hy moes trotseer.
Die Smith- en Bezuidenhout-families het hulle opregte dank uitgespreek teenoor nooddienspersoneel, Blinkpan SAPD, brandweer-, mediese- en insleepdienste, Nasonti-myn, asook lede van die gemeenskap wat op die toneel bystand verleen het.

’n Lewensvieringsdiens vir Stephan word op 17 Junie om 11:00 by die Rustique Boutique Hotel in Middelburg gehou.
“Hy was my boetie, my held.” Met dié woorde neem nie net ’n familie afskeid nie, maar ook ’n gemeenskap wat hom leer ken het as iemand wat altyd bereid was om ander eerste te stel.
