Vlieënier steeds soek na sweeftuig in see naby Mosselbaai neerstort
Dit is nou vier weke sedert die NSRI-Mosselbaai 'n noodoproep ontvang het dat 'n gemotoriseerde sweeftuig naby die Reebok-strand in die see gestort het.
Reddingspanne van Mosselbaai en George is op 19 Septenber binne ‘n uur ontplooi om na ‘n vlieënier te soek wat vermoedelik naby Reebok-strand buite Mosselbaai, met ‘n sweeftuig in die see gestort het.
Duikers op bote, ‘n helikopter, ‘n klein vastevlerk vliegtuig en later ook ‘n hommeltuig is ingespan om te kyk of daar iewers in die area waar die persoon na bewering neergestort het, tekens van lewe of wrakstukke is.
Die polisie van die Groot-Brakrivier-polisiestasie het dadelik lede uitgestuur om te kyk of daar iewers ‘n verlate voertuig is wat dalk aan die eienaar/vlieënier van die gemotoriseerde sweeftuig behoort het. Tot op hede, is daar niks gevind nie. Nie in die see nie en ook geen verlate voertuig of vermiste persoon is aangemeld nie.
Inwoner vertel
Mossel Bay Advertiser het met Stephen Dunlop, die persoon wat die beweerde insident gesien en by die plaaslike NSRI gerapporteer het, gaan gesels.
Dunlop is ‘n afgetrede Suid-Afrikaanse helikopter-vlieënier wat self aan verskeie reddingsoperasies deelgeneem het. Hy vertel: “Ek het met ‘n koppie koffie in die hand oor die see uitgekyk toe ek sien hoe ‘n gemotoriseerde sweeftuig in die rondte sirkel.
“Die persoon het vir ten minste drie minute op ‘n sekere plek gesirkel, waarskynlik om na walvisse te kyk. Die weer was grou en ek het gedink die persoon doen nou ‘n dom ding om so ver uit te wees met ‘n gemotoriseerde sweeftuig. Die sweeftuig het al hoe laer gesirkel en toe in die see gestort”.
Dunlop het intussen uit die huis gestap om toerusting in sy bakkie te laai. Hy het aangehou om die sweeftuig se bewegings dop te hou en toe dit in die see verdwyn, het hy dadelik die NSRI in Mosselbaai geskakel om dit aan te meld. Die soektog is na 10 ure afgelas nadat geen wrakstuk of oliekol in die see opgemerk is nie.

Kenner
Mossel Bay Advertiser het met Waldo Krahenbuhl, ‘n bekende valskerm- en sweeftuigkenner in Mosselbaai-area gesels. Volgens hom is daar vier plaaslike mense wat ‘n gemotoriseerde sweeftuig het.
So ‘n sweeftuig kan in ‘n middelslag rugsak pas en hoef nie met ‘n bakkie met spesiale rame vervoer te word nie.
“Ons vlieg nooit vroegoggend by die see nie, omdat die weersomstandighede vinnig kan verander. Ons vlieg gewoonlik later in die oggend van so 10:00 af.”
Hy vervolg: “Mense wat van die binneland af kom, vlieg eerder vroegoggend weens lugstrome en ander faktore.” Dit laat die vermoede ontstaan dat die persoon wat na bewering die oggend van 19 September gevlieg het, nie kennis gehad het van plaaslike weersomstandighede nie.

Die kommunikasiebeampte van die Groot-Brakrivier-polisiestasie, Sersant Lauriane Botha, het weer ‘n beroep op lede van die publiek gedoen om na vore te kom as hulle dalk so iets op 19 September tussen 06:30 en 06:50 gesien het.
Ook as daar ‘n moontlikheid is dat onopgeëiste bagasie by byvoorbeeld ‘n oornagplek aan ‘n vermiste persoon kan behoort.
Of as enige iemand vir ‘n ruk nie kontak gemaak het met familie of vriende in die binneland of oorsee nie.
Volgens ‘n woordvoerder van die Metro EMS Mediese Reddingsdienste, Richard Botha, is so ‘n soekoperasie baie duur. “Vir ons gaan dit eerstens daaroor om lewens te red en nie om koste te bespaar nie.”
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com