Sakeman beweer bekende koffievrou, man bedrieg hom uit R32m
Die egpaar, tesame met ‘n derde beskuldigde, verskyn in September op klagtes van diefstal, bedrog en geldwassery in die hof.
DHM Traders, ‘n maatskappy van die voormalige aanbieder van die kykNET-reeks ‘Net Koffie’ en haar man, is voorlopig in die Johannesburgse hooggeregshof gelikwideer nadat ‘n sakeman beweer dat hulle hom uit R32m bedrieg het.
Die likwidasie aansoek om vier van die Henriëtte en Andries ‘Dries’ Marx se maatskappye te likwideer is verlede jaar deur Hanno van Dyk gebring nadat sy ander pogings om R6m se skuld te verhaal, misluk het.
Die Marx-egpaar het nou tot 25 Oktober om te reageer voor die likwidasie finaal gemaak word.
Die Marx-egpaar en ‘n mede-beskuldigde, Paul McIntyre verskyn weer op 16 September in die hof vir kommersiële misdrywe in Pretoria op 32 aanklagte van diefstal, 120 aanklagte van bedrog en drie aanklagte van geldwassery.
Die klaer in die saak is Yellow Star Manufacturing onder die direkteurskap van Hanno van Dyk.
Volgens die klagtstaat was Dries die besturende direkteur van die maatskappy met 20% aandeelhouerskap vanaf 2018 tot 2022 toe hy afgedank is.
Gedurende hierdie tydperk was hy verantwoordelik vir die daaglikse bestuur van die fabriek in Telfordstraat in Duncanville.
McIntyre is in April 2019 deur Dries as kliënteskakelbeampte aangestel.
In die klagstaat word daar aangevoer dat geld reguit uit Yellow Star Manufacturing se bankrekening in bankrekeninge van die beskuldigdes se maatskappye DHM Traders, Tabgha Holdings, Arabica Productions en Coffee Excellence oorbetaal is.
McIntyre het volgens die klagstaat ook betalings ontvang.
Die totale bedrag ter sprake is glo R32 miljoen.
Al drie die beskuldigdes is verlede jaar op borgtog van R20 000 elk vrygelaat op die voorwaarde dat hulle toekomstige hofverskynings bywoon, hulle paspoorte oorhandig en nie vir reisdokumente mag aansoek doen vir die duur van die verhoor nie.
Die beskuldigdes mag ook nie kontak met getuies in die saak hê nie.
Die verhoor sal in alle waarskynlikheid eers in 2025 plaasvind.
Henriëtte was vroeër aanbieder van die kykNET-program ‘Net Koffie’. Die derde en laaste seison is in 2022 uitgesaai.
Read original story on www.citizen.co.za