Middelburgse vrou vat diewe kaalvuis aan nadat hulle koeriervoertuig probeer roof
’n Jong vrou van Middelburg het ’n groep rowers laat les op sê nadat hulle probeer het om ’n koeriervoertuig te beroof.
Nie eers ’n dreigement van ’n rower dat hy haar gaan skiet, het ’n vrou van Middelburg in Mpumalanga teruggehou om verwoed teen dié diewe te veg nie.
Die jong vrou, wat verkies om anoniem te bly, het gistermiddag aan Middelburg Observer vertel van die gebeure Donderdagoggend in ‘n parkeerarea in Middelburg. Die vrou het versoek dat die presiese ligging waar die voorval gebeur het nie bekendgemaak word nie.
Sy vertel dat sy op pad was na haar werksplek nadat sy gou om die hoek by ’n ander besigheid was, toe sy hoor hoe iemand gil: “Help my! Help my!” Sonder om te aarsel het sy dadelik soontoe gehardloop.
Sy kon sien dat ’n wit voertuig agter ’n koeriervoertuig parkeer het en dat een persoon reeds ’n pakkie uit die koeriervoertuig gegryp het.
Volgens haar was daar drie mense in die verdagtes se voertuig.
Sy het op hulle afgestorm en die bestuurder, wat oomblikke vantevore nog buite die voertuig was, uit die voertuig begin trek. Die booswig het haar in die maag geslaan. Sy het met haar vuiste terugbaklei.
Die ander verdagte het vir haar gesis: “Staan terug, ek gaan jou skiet!” Sy het egter vir hom teruggeskree: “Skiet en kry klaar!”
Op daardie oomblik het die man wat agter in die voertuig was, haar deur die venster beetgekry en wou haar saamsleep. Sy het egter ook ’n paar vuishoue op hom toegedien.
Teen hierdie tyd het ’n paar omstanders aangehardloop gekom en dít was een te veel vir die boewe, wat voet in die hoek gesit het.
Een van die boosdoeners het die vrou nog deur die venster beetgehad. Die vrou het hard met die grond kennis gemaak toe sy weggeslinger is vanaf die voertuig.
Wat haar egter dronkslaan, is dat niemand aanvanklik kom help het toe die jong man vir die eerste keer om hulp geroep het nie. Sy was glo die enigste wat dadelik gereageer het.
Sy sê sy weet baie mense sal sê dat sy ’n dom ding gedoen het en haar eie lewe in gevaar gestel het.
“Ons leef in ’n wêreld waar dit gevaarlik is die oomblik wat jy uit jou huis uit gaan. Hy kon my seker geskiet het as hy wou, maar ek het nie ’n wapen gesien nie. Ek het net gereageer om hulp te verleen.”
Weens die harde val op die grond, het sy haar elmboog ’n bietjie seergemaak en sy het talle bloukolle en skrape van die geveg en die val.
“My arm was ’n maand gelede in gips. Ek het ’n genetiese siekte wat die kraakbeen laat verbrokkel en deur die senuwees sny. Ek het egter nie daaraan gedink toe ek op hulle afgehardloop het nie. Ek wou net help.”
Read original story on www.citizen.co.za