Boer en honde 2 dae op berg vasgekeer ná vloede naby Brits
'n Man en sy honde het twee traumatiese dae deurgebring, vasgekeer op 'n berg terwyl vloedwaters rondom hulle gestyg het.
‘n Boer van Assen naby Brits en sy vyf honde was byna twee dae op ‘n berg vasgekeer nadat hulle van die plaas uit die watervloed moes vlug.
Hy is uiteindelik Donderdagmiddag deur ‘n helikopter na veiligheid geneem.
Henk Knouwds (44), wat op die Pienaarsrivier se wal boer, was alleen op die plaas toe die Klipvoordam Woensdag sy walle oorstroom het en vloedwaters die Assen-gebied verspoel het.
“Woensdagmiddag het die rivier in volle sterkte oor die laagwaterbrug by die plaas begin spoel. Ek was toe reeds vasgekeer. Gelukkig het my vrou vir haar ouers gaan kuier. Ons het voorheen oorstroom, maar die ergste was dat die huis net sowat baksteen-hoogte onder water was. Ek en die werkers het die huis begin ontruim en die inhoud na ‘n hoërliggende stoor geskuif,” het Knouwds vertel.
Hy sê Donderdag in die vroeë oggendure het hy gesien die rivier was in volle vloed en dat dit net sou toeneem.
Knouwds wou sy honde in die bakke laai en probeer uitkom, maar wat hy nie besef het nie, was dat die rivier toe alreeds van die anderkant af ook die gebied oorspoel het.
“Ek moes so gou moontlik wegkom. Dit was ‘n traumatiese ervaring, as ek twee honde in die bakkie kry en omdraai om die ander te gaan haal, spring dié in die bakkie weer uit om by my te bly.
“Ek het probeer om die bakkie te ry tot waar ek kon, maar in ‘n stadium was die water reeds oor die bakkie se enjinkap en ons het gaan staan. Ek en die honde het gesukkel om op droë grond langs die stygende watervlak te kom.”
Knouwds en die honde het die res van die nag langs die stygende watervlak deurgebring.
“My selfoon was pap en ek kon geen kontak met die buitewêreld maak nie. Dit was ‘n rowwe nag, ek moes deurentyd die watervlak dophou. Toe dit lig word, is ons teen die berg uit waar daar ‘n Chinese kerkie is. Ek het ‘n kombers gekry en so bietjie geslaap.”
Toe hy wakker word, was hy en die honde weer berg af. Hulle was sowat 2.5km van die plaas af.
“Die watervlak het egter nog gestyg. Ons is weer terug na die kerk toe. Ek was heeltemal afgesny van die buitewêreld, en ek kon niemand kontak nie.”
Intussen het Knouwds se buurman en sy vrou erg bekommerd geraak na hulle hom vir twee dae nie in die hande kon kry nie. Gemeenskapslede, die Brits GPF, polisielede, Anglo American se taktiese reaksie-eenheid en SSG Sekuriteit se helikopter het ‘n grootskaalse soektog na Knouwds geloods.
“In ‘n stadium het ek beweging op ‘n plaas oorkant die vloedwater gesien. Ek het so hard geskree as wat ek kon. Ná wat gevoel het na ‘n ewigheid, het iemand uiteindelik gehoor. Hulle het my buurman gebel en die soekgeselskap is in kennis gestel.”
Die SSG-helikopter het Knouwds en sy honde laat Donderdagmiddag na veiligheid gevlieg.
“Ek wil my dank uitspreek aan elkeen wat gehelp het. Gelukkig het ons geen diere verloor nie. Die perde het voor die vloed uitgevlug en ek kon die honde uitkry. Dit was net die Here se genade. Ons is dankbaar.”

Nuus wat saak maak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp kanaal.
Read original story on kormorant.co.za