Swartmamba pik hond dood in Brakpanse huis, seun (9) red ander honde
‘n Swartmamba is verlede week uit ‘n Brakpan-huis verwyder, maar die gesin treur oor hul geliefde Yorkie se dood ná ‘n dodelike slangbyt.
‘n Swartmamba van ongeveer 1,5m is verlede week lewendig uit ’n huis in Denneoord, Brakpan, verwyder, maar met ’n tragiese nadraai. Die Marais-gesin se Yorkie, Dolce, is dood nadat dit deur dié giftige slang gepik is.
Ivanti Marais (42) het aan Brakpan Herald gesê haar seun, Aiden (9) het dapper en volwasse opgetree toe hy die slang in haar huis gewaar het.
“Ongelukkig is hy ook erg getraumatiseerd gelaat omdat ons Yorkie, wat vyf en ’n half jaar oud was, dood is,” het Ivanti gesê.
Volgens haar was Aiden Vrydagmiddag net voor 15:00 in die huis toe hy opmerk dat Dolce onder ‘n bank was.
“Dit was ongewone gedrag van ons hondjie en dit het Aiden se aandag getrek,” het Ivanti vertel.
“Aiden het die bank opgelig en Dolce het uitgehardloop maar dadelik weer terug beweeg en toe te voorskyn gekom met die slang in haar bek.
“Aiden het vir Dolce geskreeu om die slang te los en in die proses het hy oor die slang gereik om vinnig vir Dolce in die hande te kry. Hy het Dolce en ons ander twee honde, ’n Franse bulhond en nog ’n Yorkie, in die badkamer gaan toemaak.
“Hy het ook gesorg dat hy ’n oog op die slang hou.”
Ivanti se ouers, wat in die middae na Aiden omsien, woon langs haar in dieselfde kompleks en was toevallig op pad na haar huis toe hulle Aiden hoor roep.
“My ouers en my buurman, Wynand Cornelius, het dadelik tot aksie oorgegaan en mense gekontak om die slang te kom vang en te verwyder. Ek was tydens die voorval nog by die werk en het so gou ek kon na my huis gery toe ek te hore gekom het van die slang.
“Aiden het drie keer teruggekeer na die badkamer om seker te maak of ons honde oukei is.

“Toe hy die derde keer teruggegaan het, het hy gesien dat Dolce nie meer lewe nie. Dit was binne ’n tydperk van ongeveer 20 minute. My ma het Dolce na ‘n veearts gehaas maar daar kon niks gedoen word om my hond te red nie,” het Ivanti, wat Dolce by die veearts vir oulaas gaan groet het, vertel.
Sy het groot lof vir Wynand gehad wat haar ouers en Aiden bygestaan het en ook gepoog het om Dolce by te bring.
Hy het ook aangebied om te kyk of daar oop gate in en om die huis is waardeur die slang kon toegang kry.
“My huis is basies in die middel van die kompleks en daar is glad nie digte plantegroei of bome naby nie,” het sy gesê.
“Dit is heeltemal duister hoe die slang in my huis gekom het.”
Volgens Ivanti is haar ouer dogter Anke Marais (19), wat tans in die Kaap studeer, net so erg geraak deur die voorval.
“Sy het Dolce het ‘n hegte band gehad en sy is baie hartseer.”
Volgens inligting is die slang verwyder deur ’n geregistreerde slangvanger en sal dit volgens die permit voorwaardes na een van die dieretuine in Gauteng geneem word.
‘n Swartmamba is ‘n groot, vaartbelynde slang met ‘n smal doodskisvormige kop en gladde skubbe. Mambas is uiters giftige slange wat net in Afrika voorkom.
Die bekendste verteenwoordigers is die swartmamba en die groenmamba.
‘n Plasing oor die slang is op die Facebook-blad van Snakes of Southern Africa gemaak, waarby daar aangedui word dat dit hoogs ongewoon is om ‘n swartmamba in dié omgewing aan te tref.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za