Raad pos onderwyser van Middelburg ná seksuele aanranding van 15-jarige
'n Tribunaal van die Onderwys Arbeidsverhoudingsraad het besluit 'n mansonderwyser mag nooit weer klasgee nie.
’n Mansonderwyser van Middelburg in Mpumalanga se skorsing uit die beroep maak opslae nadat hy gister deur ’n tribunaal van die Onderwys Arbeidsverhoudingsraad skuldig bevind is aan die seksuele aanranding van ’n 15-jarige skooldogter.
Middelburg Observer berig hy is tydens die tribunaal, waar sy vrou ook getuig het, summier uit die onderwys geskors en mag nooit weer in ’n klaskamer staan nie.
Die onderwyser is ook vroeër vanjaar gearresteer en op borg vrygelaat. Alhoewel die dissplinêre verhoor tot ‘n skuldigbevinding en ontslag gelei het, duur sy strafregtelike vervolging voort. Die man sal volgens die Nasionale Vervolgingsgesag weer op 2 September in die hof verskyn.
Die dissiplinêre klagte het gespruit uit ’n voorval in 2024 waartydens hy ‘n graad agt meisie gevra het om papierwerk by sy huis, op die skoolterrein, te gaan haal, waar die gewraakte voorval plaasgevind het.
Middelburg Observer identifiseer nie die slagoffer, onderwyser of die betrokke skool nie, maar het verneem dat gemeenskapslede betrokkenes met onder andere foto’s identifiseer.
Die publikasie het insette van mediaregprokureur, Helene Viljoen, bekom.
Viljoen het beklemtoon dat die identifisering van die slagoffer op enige platform vermy moet word.
“Wanneer kinders deur voorvalle soos hierdie geraak word, vereis die grondwet dat Suid-Afrikaners die belange van ons kinders eerste stel,” het sy verduidelik.
“Enigeen wat op die onderwyser se skorsing reageer deur sy slagoffer te identifiseer, se optrede druis lynreg in teen hierdie grondwetlike bepaling.”
Dit is ook, volgens Viljoen, belangrik om te onthou dat minderjarige slagoffers wat betrokke is by strafregtelike vervolging nie in die openbaar gedentifiseer mag word nie. “Dit is in terme van die Strafproseswet wat in 2019 deur ‘n Konstitusionele Hof uitspraak sodanig gewysig is.”
Hierbenewens, verduidelik Viljoen, verbied die Strafproseswet die identifisering van ‘n beweerde seksuele oortreder voordat hy op die aanklagtes teen hom, gepleit het. Die Nasionale Vervolgingsesag kon nie ten tye van plasing bevestig of die beskuldigde reeds gepleit het nie.
Jasper Zwane van die onderwysdepartement het wel bevestig dat die onderwyser geskors is en kriminele klagtes in die gesig staar.
- Die skokgolf wat die spogskool getref het, volg op ’n soortgelyke voorval waar ’n wiskunde onderwyser by Kwazamokuhle Secondary ook vanjaar strafregtelik skuldig bevind is aan seksuele aanranding op ’n leerling in sy klas. Leonard Soviya is ook uit die onderwys geskors nadat hy skuldig bevind is aan seksuele aanranding. Dit word beweer dat beide onderwysers hul slagoffers versoek het om nie oor die voorvalle te praat nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za