Vaalrivier besoedeling: AfriForum vra minister om kriminele klagtes te ondersoek

Die burgerregte-organisasie het twee klagtes teen die munisipale bestuurder van Emfuleni munisipaliteit gelê oor die beweerde storting van rou riool in die rivier.

Die voortslepende besoedeling van die Vaalrivier weens ‘n verbokkelende infrastruktuur is ‘n groot bron tot kommer.

Vaalweekblad berig dat AfriForum vandeesweek ‘n ernstige beroep op Willie Aucamp, Minister van die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, gedoen het om dringend die twee kriminele klagtes wat verband hou met besoedeling van die rirvier, te ondersoek.

Die organisasie in 2024 en 2025 klagtes teen April Ntuli, die Munisipale Bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) gelê. Hulle eis nou dat dit ondersoek en sonder verdere vertraging hof toe gebring word.

Die klagtes spruit uit die beweerde voortdurende en ernstige storting van rou riool in Sasolburg, Vaalpark en Vanderbijlpark. Gemeenskappe langs die Vaalrivier word veral geraak.

In ’n brief wat Dinsdag aan die minister gestuur is, sê AfriForum dat rou riool steeds in riviere, woongebiede en openbare ruimtes inloop, wat ernstige risiko’s vir gesondheid, watersekerheid en die omgewing inhou.

“Ons kan nie nog vyf jaar wag voordat ’n saak voor die hof dien nie. Die besoedeling is ’n geweldige probleem en die situasie raak net erger. Die huidige munisipale bestuurder moet in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word.

“Die ANC se praktyk om munisipale bestuurders te vervang sodra aanspreeklikheid dreig, lyk na ’n opsetlike poging om verantwoordelikheid te ontduik. Dit kan nie toegelaat word nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die Sentraalstreek.

AfriForum se versoek volg op ’n dagvaarding wat aan die Emfuleni Munisipaliteit uitgereik en beteken is om op 3 Maart in die hof te verskyn.

Dit volg op kriminele klagtes wat die organisasie reeds in 2018 teen die munisipaliteit ingedien het.

“Die feit dat dit byna vyf jaar geneem het voordat enige werklike optrede geneem is, is egter kommerwekkend. Gedurende hierdie tydperk het die besoedeling net vererger, riviere is besoedel, infrastruktuur het verder agteruitgegaan en inwoners se gesondheid en eiendom is in gevaar gestel,” sê Grobbelaar.

AfriForum het ook sy regspan opdrag gegee om ’n amptenaar aan te stel wat die strafregtelike proses noukeurig sal monitor, hofverrigtinge sal bywoon, met die Nasionale Vervolgingsgesag sal skakel en sal verseker dat die saak nie uitgestel, afgewater of onnodig laat vaar word nie.

AfriForum het ook op 8 Oktober 2025 ’n samewerkingsooreenkoms aan die Emfuleni Munisipaliteit voorgehou waarin kundige, privaatsektor-hulp aangebied word om die rioolinfrastruktuur te stabiliseer en te bestuur.

Hierdie aanbod hang egter steeds by die munisipaliteit se regsafdeling sonder enige finale goedkeuring.

*Luidens ‘n verklaring wat onlangs deur Gerda Senekal, VF Plus-raadslid van ELM uitgereik is, het die VF Plus in Mei 2020 ’n formele klag by die Groen Skerpioene ingedien en aangedring op ’n ondersoek oor die besoedeling.

Die VF Plus se herhaalde waarskuwings aan die raad oor die ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s is glo jaar na jaar geïgnoreer.

Die party het die saak ook onder die aandag van die menseregtekommissie gebring wat na ’n deeglike ondersoek die besoedeling as ’n skending van inwoners se grondwetlike reg op ’n gesonde omgewing en skoon water verklaar het.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button