AfriForum doen beroep op minister oor Vaalrivier besoedeling
Die Groen Skerpioene is al in 2020 gevra vir ’n ondersoek oor die besoedeling.
VANDERBIJLPARK – Die voortslepende besoedeling van die Vaalrivier weens ‘n verbokkelende infrastruktuur is ‘n groot bron tot kommer.
AfriForum het vandeesweek ‘n ernstige beroep op Willie Aucamp, Minister van die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake, gedoen om dringend die twee kriminele klagtes wat die organisasie in 2024 en 2025 teen April Ntuli, die Munisipale Bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) gelê het, te ondersoek en sonder verdere vertraging hof toe te bring. Hierdie klagtes ingevolge die Nasionale Waterwet 36 van 1998 spruit uit die voortdurende en ernstige storting van rou riool in Sasolburg, Vaalpark en Vanderbijlpark. Gemeenskappe langs die Vaalrivier word veral geraak.
In ’n brief wat gister (11 Februarie) aan die Minister gestuur is, sê AfriForum dat rou riool steeds in riviere, woongebiede en openbare ruimtes inloop, wat ernstige risiko’s vir gesondheid, watersekerheid en die omgewing inhou.
Die voortdurende besoedeling is nie net onwettig nie, maar verteenwoordig ook ’n direkte skending van inwoners se grondwetlike reg op ’n veilige en gesonde omgewing.
“Ons kan nie nog vyf jaar wag voordat ’n saak voor die hof dien nie. Die besoedeling is ’n geweldige probleem en die situasie raak net erger. Die huidige Munisipale Bestuurder moet in sy persoonlike hoedanigheid aanspreeklik gehou word.
Die ANC se praktyk om munisipale bestuurders te vervang sodra aanspreeklikheid dreig, lyk na ’n opsetlike poging om verantwoordelikheid te ontduik. Dit kan nie toegelaat word nie,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die Sentraalstreek.
AfriForum se versoek volg op ’n dagvaarding wat aan die Emfuleni Munisipaliteit uitgereik en beteken is om op 3 Maart 2026 in die hof te verskyn.
Dit volg op kriminele klagtes wat die organisasie reeds in 2018 teen die Munisipaliteit ingedien het weens die voortdurende rioolstortings en ernstige waterbesoedeling.
“Die feit dat dit byna vyf jaar geneem het voordat enige werklike optrede geneem is, is egter kommerwekkend. Gedurende hierdie tydperk het die besoedeling net vererger, riviere is besoedel, infrastruktuur het verder agteruitgegaan en inwoners se gesondheid en eiendom is in gevaar gestel,” sê Grobbelaar.

AfriForum het ook sy regspan opdrag gegee om ’n amptenaar aan te stel wat die strafregtelike proses noukeurig sal monitor, hofverrigtinge sal bywoon, met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sal skakel en sal verseker dat die saak nie uitgestel, afgewater of onnodig laat vaar word nie.
AfriForum het ook op 8 Oktober 2025 ’n samewerkingsooreenkoms aan die Emfuleni Munisipaliteit voorgehou waarin kundige, privaatsektor-hulp aangebied word om die rioolinfrastruktuur te stabiliseer en te bestuur. Hierdie aanbod hang egter steeds by die Munisipaliteit se regsafdeling sonder enige finale goedkeuring.
*Luidens ‘n verklaring wat onlangs deur Gerda Senekal, VF Plus-raadslid van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) uitgereik is, het die VF Plus reeds in Mei 2020 ’n formele klag by die Groen Skerpioene ingedien en aangedring op ’n ondersoek oor die besoedeling.
