Springs-vrou hoor oor foon hoe haar man tydens aanval geskiet word
’n Vrou moes magteloos oor die foon luister hoe haar man aangerand en geskiet word nadat hy langs die pad met ’n pap band gestrand was.
’n Vrou van Geduld, Springs, moes verlede Donderdag oor die foon hoor hoe haar 69-jarige man aangerand en uiteindelik geskiet word, nadat hy langs die pad met ’n pap motorband gestrand was.
Volgens Springs Advertiser het Moira Odendaal (66) en ander familielede dadelik na die plek gehaas waar Kallie Odendaal geskiet is.
Die voorval het omstreeks 05:00 plaasgevind, net ’n klipgooi van die Langlaagte-polisiestasie. Hoewel ’n swaar gewonde Kallie by ’n hospitaal kon uitkom, is hy ongeveer 11:40 oorlede.
Volgens sy seun, Kallie jr. Odendaal (46), was sy pa daardie dag van Upington af op pad huis toe nadat hy vir ’n paar dae daar werksverpligtinge nagekom het.
Na wat verneem word, het ’n band van sy motor in Main Reefweg gebars, nie ver van die polisiestasie nie.
“Hy het uitgeklim en was besig om die band te ruil terwyl hy ook met my ma op die foon was om aan haar te verduidelik waar hy was en wat gebeur het,” het Kallie vertel.

Man smeek om uitgelos te word
“My ma het skielik vreemde stemme gehoor en ook hoe my pa pleit dat hulle hom asseblief moet uitlos. Dit is toe dat hy geskiet is.”
Kallie noem dat sy ma hulle vertel het en dat hulle na die plek gehaas het waar hulle gedink het sy pa sou wees.
Volgens Kallie kon sy gewonde pa daarin slaag om terug te klim in sy Jetta en na ’n nabygeleë vulstasie te ry.
“Dit is daar waar ons hom aangetref het. Hy is toe na die Helen Joseph-hospitaal geneem, waar hy later oorlede is.”
Hy noem sy pa was ’n hardwerkende mens wat steeds vir sy gesin gesorg het, en dat daar baie mense van hom afhanklik was.
Slegs sy selfoon is gevat
“Die persoon of persone wat hom oorval het, het net sy selfoon gevat. Sy beursie met kontant en al sy ander besittings was nog by hom,” het Kallie gesê.
Sy kleindogter, Phoebe Hirselmann, het gesê haar oupa was vir haar soos ’n pa, en dat sy dood ’n groot verlies is vir almal wat hom geken het.
Die voorval word deur die SAPD ondersoek.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za