Borgtog tweede keer geweier vir vrou wat glo Emfuleni munisipaliteit bedrieg
‘n Vrou het na bewering inwoners in die Emfuleni munisipaliteit bedrieg deur voor te gee dat sy afslag op munisipale rekeninge kon bekom.
‘n 25-jarige vrou wat daarvan beskuldig word dat sy die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit na bewering met sowat R424 000 bedrieg het, is weer borgtog geweier.
Janitha van Reenen-Coetzee het gister (3 Julie) in die Vanderbijlpark-landdroshof verskyn waar sy op grond van beweerde nuwe feite om borgtog aansoek gedoen het, berig Parys Gazette.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die aansoek suksesvol teengestaan.
Coetzee staan tereg op ‘n aanklag van bedrog nadat sy na bewering inwoners mislei het deur voor te gee dat sy as ‘n onafhanklike agent afslag op uitstaande munisipale rekeninge kon bekom.
Volgens die NVG het slagoffers geld aan haar betaal sodat sy die afslagbetalings namens hulle aan die munisipaliteit kon maak. Die geld is egter na bewering nooit aan die munisipaliteit oorbetaal nie.
Daar word verder beweer dat Coetzee ook eise namens die slagoffers by die munisipaliteit ingedien het, waarna die munisipaliteit sowat R424 000 aan haar uitbetaal het. Die geld is glo nooit aan die bedoelde begunstigdes oorbetaal nie.
Die beweerde bedrog is aan die lig gebring nadat die destydse hoof finansiële beampte van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, wyle Martha Mani Rantsofu, verdagte eise ter waarde van ongeveer R424 000 opgemerk en die saak aangemeld het.
Ná ‘n interne ondersoek is die saak aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir verdere ondersoek oorhandig.
Die staat, verteenwoordig deur aanklaer Moses Raditsela, het die borgtogaansoek teengestaan en aangevoer dat Coetzee ‘n vlugrisiko is aangesien haar woonadres weens teenstrydighede nie behoorlik bevestig kon word nie.
Die staat het ook aangevoer dat die sogenaamde nuwe feite reeds tydens haar vorige borgtogaansoek oorweeg is en dus nie werklik nuwe inligting was nie.
Landdros Mamburu het met die staat saamgestem en bevind dat die inligting wat deur die beskuldigde voorgehou is, nie as nuwe feite beskou kan word nie. Die hof het verder beslis dat dit nie in belang van geregtigheid sou wees om haar op borgtog vry te laat nie.
“Die hof het bevind dat die beskuldigde nie nuwe feite voorgelê het wat ‘n heroorweging van borgtog regverdig nie en die aansoek is gevolglik van die hand gewys,” het Tshegofatso Makhudu, kommunikasiebeampte van die NVG, gesê.
Die saak is tot 23 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.