Nog ’n VF+-leier se kop rol in ‘paleisrewolusie’
Die VF+ se interne onrus neem verder toe nadat Gerda Senekal in die Vaaldriehoek haar party verlaat het, kort nadat Grandi Theunissen ook sy vertrek aangekondig het.
In wat onder verskeie politieke partye as ’n paleisrewolusie bekendstaan, het die VF+ gister (25 Augustus) nog een van sy nasionale leiers verloor.
Raadslid Gerda Senekal, die leier van die VF+ in Emfuleni en Gautengse streekleier, het amptelik uit haar pos en die party bedank, berig die Vaalweekblad.
Senekal se bedanking volg kort op die hakke van Grandi Theunissen, die voormalige koukusleier van die VF+ in die Tshwane-metroraad, wat ook gister aangekondig het dat hy die party verlaat en by die DA aansluit.
Hy het sy bedanking omstreeks 08:00 by die VF+ ingedien en by ’n nuuskonferensie by die DA se hoofkantoor in Pretoria-Oos sy besluit bekendgemaak.
Senekal het oor baie jare haar hart, tyd en energie aan die gemeenskappe van Emfuleni gewy.
Haar rekord van diens spreek vanself, sê Vaaldriek se inwoners op verskeie sosiale blaaie nadat die nuus bekendgemaak is.
Sy het oor die jare heen bestendig opgetree oor kwessies wat die inwoners van Emfuleni direk raak, soos water- en rioolbesoedeling, elektrisiteitsvoorsiening, finansiële bestuur, munisipale aanspreeklikheid, dienslewering, onbillike heffings en die beskerming van inwoners se belange, was net van die lofbetuigings wat na haar bedanking ingestroom het.
Amptelike bedanking
Terwyl Theunissen se bedanking uit sy party as ’n ‘ontnugtering’ beskryf kan word, sê Senekal sy was verplig om te bedank ná die arrestasie van haar seun, David Senekal, wat saam met ses ander werknemers van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit van onder meer bedrog aangekla word.
“Hierdie besluit is nie een wat ek ligtelik of alleen geneem het nie. Die VF+ het my versoek om met onmiddellike effek as raadslid én as kandidaat vir die komende verkiesing te bedank.
“Dit volg nadat die party tot die gevolgtrekking gekom het dat die huidige mediaberigte en die omstandighede rondom die saak moontlik reputasieskade vir die party en gevolglik skade aan sy verkiesingsveldtog kan veroorsaak,” sê Senekal.
Sy was die een wat die plaaslike regerende party (ANC) op hul tone gehou het en soms warm onder die kraag gemaak het met ongemaklike vrae by vergaderings, ongewilde standpunte ingeneem en geweier het om stil te bly wanneer dit in die belang van inwoners was, glo een van die Vaalweekblad se joernaliste.
“Die berigte en bewerings rondom David het ’n openbare dimensie geskep waarin familieaangeleenthede maklik met my werk en diens as raadslid vermeng kan word.
“Ek wil dit baie duidelik stel dat my rekord en diens aan die inwoners op sy eie beoordeel moet word. Ek sal nie toelaat dat bewerings oor enige ander persoon gebruik word om die jare se werk wat ek vir Emfuleni gedoen het, te verdraai, te verkleineer of uit te wis nie,” sê Senekal.
Dankbetuiging
“Ek bedank die VF Plus opreg vir die geleenthede wat aan my gebied is om op plaaslike regeringsvlak en binne die party diens te lewer.
“Ek het die party se beginsels van aanspreeklikheid, deursigtigheid en verantwoordelike regering met oortuiging probeer uitleef.
“Ons het nie altyd gewen nie, maar ek glo ons het dikwels die belangrike vrae gevra wat ander verkies het om te vermy,” sê Senekal.
Sy het ook inwoners bedank wat haar oor die jare ondersteun, gekritiseer, gekontak en aangemoedig het.
“My bedanking uit die Raad beteken egter nie dat my verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap eindig nie. Ek sal nie ophou om om te gee oor Emfuleni, die Vaal en die mense wat hier woon nie,” sê sy.
Senekal was vroeër vanjaar in die nuus nadat sy op 15 Julie vlugtig in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde bedrog oor haar akademiese kwalifikasies. Senekal word daarvan beskuldig dat sy valslik voorgegee het dat sy grade in politieke wetenskap en openbare administrasie verwerf het, maar die bewerings is nog nie in die hof getoets nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za