Gerda Senekal wéér in Vereeniging-hof oor beweerde vals kwalifikasies

’n Beleërde voormalige VF+-raadslid van die Emfuleni-munisipaliteit se jongste hofverskyning volg te midde van ’n week waarin haar politieke loopbaan tot ’n einde gekom het.

Gerda Senekal, voormalige VF+-raadslid van die Emfuleni-munisipaliteit, het vanoggend (27 Augustus) weer vlugtig in die Vereeniging-streekhof verskyn op ’n aanklag van beweerde bedrog wat verband hou met haar akademiese kwalifikasies.

Die strafsaak spruit voort uit ’n aangeleentheid wat aanvanklik intern binne die VF+ geopper en hanteer is, waarna ’n strafregtelike klagte in 2023 by die polisie ingedien is en die saak uiteindelik in die strafhof beland het, berig Vaalweekblad.

Die hof het gehoor dat Senekal se voormalige regsverteenwoordiger in ’n brief aangedui het dat hy hom aan die saak wil onttrek en haar nie meer sal verteenwoordig nie.

Senekal is deur Jaco van Heerden verteenwoordig. Hy het die hof versoek om die saak tot 10 September uit te stel, aangesien Senekal sekere video’s en dokumente aan hom wil oorhandig.

Streeklanddros Retha Willemse het die uitstel vir blootlegging toegestaan.

“Ek wil dit baie duidelik stel dat my rekord en diens aan die inwoners op sy eie beoordeel moet word,” het Senekal gesê.

Haar eggenoot en ander familielede het haar by die hof vergesel.

Die jongste hofverskyning kom aan die einde van ’n onstuimige week vir die voormalige raadslid.

Senekal het ’n dag voor haar hofverskyning aangekondig dat sy as Emfuleni-raadslid, sowel as uit haar leiersposisies en lidmaatskap van die VF+ bedank het.

Haar bedanking het gevolg nadat haar seun, David Senekal, en ses ander werknemers van die Emfuleni-munisipaliteit Maandag (24 Augustus) in die hof verskyn het.

Hulle staan in ’n afsonderlike en onverwante saak tereg op aanklagte wat bedrog, geldwassery, korrupsie en peutery met noodsaaklike infrastruktuur insluit. Die bewerings teen hulle is nog nie in die hof getoets nie.

Senekal het gesê die VF+ het haar versoek om as raadslid én kandidaat vir die komende plaaslike regeringsverkiesing te bedank, omdat die omstandighede en gepaardgaande mediaberigte moontlik reputasieskade vir die party en sy verkiesingsveldtog kon veroorsaak.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button