Senekal weer in die hof ná onstuimige week
Gerda Senekal het vanoggend weer vlugtig in die Vereeniging-streekhof verskyn op ’n aanklag van beweerde bedrog wat met haar akademiese kwalifikasies verband hou. Dit volg kort nadat sy vroeër vandeesweek uit die VF Plus bedank en haar seun, David, in ’n onverwante saak in die hof verskyn het.
VEREENIGING – Gerda Senekal, voormalige VF Plus-raadslid in die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het Donderdagoggend, 27 Augustus, weer vlugtig in die Vereeniging-streekhof verskyn op ’n aanklag van beweerde bedrog wat met haar akademiese kwalifikasies verband hou.
Die strafsaak het sy oorsprong in ’n aangeleentheid wat aanvanklik intern binne die VF Plus gehanteer is voordat dit uiteindelik in die strafhof beland het.
Die strafregtelike klagte is in 2023 by die polisie ingedien nadat die aangeleentheid reeds intern binne die VF Plus aangeroer is.
Die hof het Donderdag gehoor dat Senekal se voormalige regsverteenwoordiger in ’n brief aangedui het dat hy nie meer in die saak sal optree nie en daaraan wil onttrek.
Senekal is Jaco van Heerden verteenwoordig. Hy het die hof versoek om die saak tot 10 September uit te stel omdat Senekal sekere video’s en dokumente aan hom wil oorhandig.
Streeklanddros Retha Willemse, het die uitstel vir blootlegging toegestaan.
”Ek wil dit baie duidelik stel dat my rekord en diens aan die inwoners op sy eie beoordeel moet word.” – Gerda Senekal
Senekal, wat vroeër op waarskuwing vrygelaat is, is aangesê om op 10 September weer in die hof te verskyn.
Haar eggenoot en ander familielede het haar by die hof vergesel.
Die jongste hofverskyning kom aan die einde van ’n onstuimige week vir die voormalige raadslid.
Senekal het ’n dag voor haar hofverskyning aangekondig dat sy as Emfuleni-raadslid, asook uit haar leiersposisies en lidmaatskap van die VF Plus, bedank het.
Haar bedanking het gevolg nadat haar seun, David Senekal, en ses ander werknemers van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit Maandag in die hof verskyn het.
Hulle staan in ’n afsonderlike en onverwante saak tereg op aanklagte wat bedrog, geldwassery, korrupsie en peutery met noodsaaklike infrastruktuur insluit. Die bewerings teen hulle is nog nie in die hof getoets nie.
Senekal het gesê die VF Plus het haar versoek om as raadslid én kandidaat vir die komende plaaslike regeringsverkiesing te bedank omdat die omstandighede en gepaardgaande mediaberigte moontlik reputasieskade vir die party en sy verkiesingsveldtog kon veroorsaak.
