Ontwykende Vaalrivier-krokodil verras gesin tydens hengeluitstappie
’n Gautengse gesin het Saterdag ’n onverwagse ontmoeting met 'n krokodil gehad wat al vir 'n geruime tyd vanghokke ontglip wat langs die Vaalrivier opgestel is.

Dit is al bykans ’n maand wat ’n Wes-Afrikaanse smalbekkrokodil inwoners langs die Vaalrivier in rep en roer het. Dié krokodil het tot dusver daarin geslaag om selfs Suid-Afrika se eie Crocodile Dundee se vanghokke te ontduik, berig die Parys Gazette.
Charles van der Merwe van Crocodile VDM in KZN het verlede week langs die Vaalrivier, in die omgewing van Old Willow, uitgekamp in ’n poging om die krokodil te vang. Hy moes egter met leë hande terugkeer.
Tog blyk dit nou asof dié krokodil daarvan hou om af en toe sy bek bo die water uit te steek, so al asof hy hengelaars sommer net wil terg.
’n Gesin van Gauteng se hengelnaweek by ’n vakansieoord onder die Barrage in die Vaal Eden-omgewing het Saterdag (29 Augustus) in ’n onverwagse ‘waar is die krokodil?’ – oomblik ontaard toe hulle hom gewaar het.
Dit was egter nie net die vrou, wat haarself net as M. Smith geïdentifiseer het, en haar gesin wat die smalbekkrokodil gesien het nie. Volgens Smith het minstens drie ander hengelaars wat langs hulle gesit en hengel het, hom ook naby die rivieroewer gewaar waar hy teen die stroom in geswem het.
Smith kon ongelukkig net een foto neem. Ná verskeie oproepe kon die gesin uiteindelik die waarneming by die SAPD se Watervleuel aanmeld en aandui waar hulle die krokodil gesien het.
Vaal River Rats het Smith en haar gesin se waarneming ook op die organisasie se Facebook-blad bevestig.
Smith vertel dat hulle gewoonlik by die Vaaldam hengel en dat dit die eerste keer was wat hulle in dié gedeelte van die Vaal kom hengel het.
Hoewel die gesin bewus was van die krokodil wat in die Vaalrivier rondbeweeg en geweet het dat hy nog nie gevang is nie, was die laaste ding wat hulle verwag het om die Vaal se krok sommer reg voor hulle te sien verby swem.
Die onverwagse ontmoeting het hulle allermins afgeskrik. Smith sê hulle hoop selfs om in Desember weer in die omgewing te kom hengel.
“Ons kamp gereeld, en as jy in die natuur wil wees, moet jy voorbereid wees op goggas en allerhande dinge,” sê Smith.
Die hengelnaweek was boonop baie belowend, met vyf karpe van 4kg en swaarder wat aan hul lyne gebyt het.
Vanghokke
Die krokodil is vroeër in die Old Willow-omgewing opgemerk.
Twee vanghokke is tans in die Vaalrivier opgestel in ’n poging om die ontwykende krokodil te vang.
Die Vaalweekblad het intussen ook berig dat Van der Merwe en sy span vanaf môre (1 September) die Vaalrivier op en af sal patrolleer – selfs snags – in ’n poging om die krokodil op te spoor.
Daar is ook besluit om die twee vanghokke nader te skuif aan die gebied waar die krokodil onlangs gesien is.
Kort nadat die hokke aanvanklik opgestel is, was daar kommer oor twee nuuskierige honde wat veral rondom een van die hokke rondgesnuffel het. Dit kan uiteraard ’n vangsoperasie bemoeilik.
Dié probleem is intussen aangespreek en daar sal minder aktiwiteit rondom die hokke wees in die gebiede waarheen hulle verskuif word.
Van der Merwe, wat reeds verduidelik het dat dit soms maande kan neem om ’n krokodil te vang, het jare se ondervinding en ’n indrukwekkende lys suksesvolle vangste agter sy naam.
Hy bied sy kennis, dienste en toerusting heeltemal gratis aan om die operasie te laat slaag.
Vir hom is dit ook ’n besondere uitdaging. Hy wil graag help om die dier, wat vermoedelik ’n smalbekkrokodil is, te red, aangesien hy nog nooit voorheen dié spesie gevang het nie. Die spesie is glo redelik skaars in Suid-Afrika.
Ná ’n suksesvolle vangs sal die krokodil na Emerald Resort & Casino se Animal World verskuif word. Die nodige permitte en dokumentasie is reeds in orde.
Die enigste ander opsie sou wees om die dier van kant te maak. Aangesien niemand dit wil hê nie, bly die reddingsoperasie vir nou die beste uitweg.
Vir nou moet almal maar net geduldig wees.
Waarnemings
Die publiek word steeds versoek om enige betroubare waarnemings van die krokodil onmiddellik aan te meld.
Inligting oor die gebied, tyd en, indien moontlik, ’n foto of video kan op die Safety on Vaal-WhatsApp-groep gedeel word.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za