News

Vaalrivier-krokodil ontduik steeds vanghokke

Kenners benadruk dat dit uiters moeilik is om 'n krokodil in die Vaalrivier op te spoor en te vang, aangesien die rivier oor sowat 1 200 km strek en krokodille daagliks groot afstande kan aflê.

VANDERBIJLPARK – Geduld is tans die wagwoord! Die lokaas word gereeld vervang en kameras is voltyds gerig op die twee vanghokke aan weerskante van die Vaalrivier.

Tot dusver het die krokodil daarin geslaag om die vanghokke te vermy.

Die krokodil is egter gister weer deur ‘n inwoner in die Old Willow-omgewing opgemerk is. Die krokodil was ook oor die naweek daar gesien.

“Hierdie waarnemings is baie waardevol en help ons om ’n beter idee van die krokodil se bewegings te kry,” sê Charles van der Merwe (Crocodile VDM), ervare krokodilvanger.

Charles wat in KwaZulu-Natal woon, hou tans alles fyn dop via die regstreekse kamerabeelde.

Hy het egter besluit om volgende week na die Vaal terug te keer.

Hulle sal van Dinsdag vir twee dae die Vaalrivier op en af patrolleer (selfs in die aand) in ’n poging om die krokodil op te spoor. Leon Alberts van Joburg Tyres het sy boot vir die doel beskikbaar gestel.

Charles van der Merwe by een van die twee vanghokke aan weerskante van die Vaalrivier.
Foto: Elsje Vermeulen

Daar is ook besluit om die twee vanghokke nader te skuif aan die omgewing waar die krokodil onlangs gesien is.

Daar was kort na die eerste opstel van die hokke bekommernis oor twee nuuskierige honde wat veral aan die een kant van die rivier rondgesnuffel het, wat beslis nie goed is tydens so ‘n operasionele vangs nie.

Dié probleem was intussen aangespreek, maar daar sal minder aktiwiteit rondom die hokke wees in die areas waarheen dit geskuif gaan word.

Charles, wat reeds voorheen verduidelik het dat dit soms maande kan neem om ‘n krokodil te vang, het ‘n indrukwekkende spoor van suksesverhale en jare se ondervinding agter sy naam.

Hy bied sy kennis, dienste en toerusting heeltemal gratis aan om die operasie te laat slaag.

Vir hom is dit ook ‘n besondere uitdaging: hy wil graag help om die dier (vermoedelik ‘n smalbekkrokodil) te red, aangesien hy nog nie vantevore een van dié spesie gevang het nie. Hulle is glo redelik skaars in Suid-Afrika.

Na die suksesvolle vangs sal die krokodil na Emerald Resort & Casino se Animal World verskuif word. Die nodige permitte en dokumentasie is reeds in orde.

Die enigste ander opsie was om die dier van kant te maak, maar aangesien niemand dit wil hê nie, bly die reddingsoperasie die enigste goeie uitweg.

Vir nou bly dit egter ‘n geduldspel.

Waarnemings

Die publiek word steeds versoek om enige betroubare waarnemings van die krokodil onmiddellik aan te meld. Die inligting (area, tyd en indien moontlik ‘n foto of video) kan op die Safety on Vaal WhatsApp-groep gedeel word.

Veiligheid

Inwoners word gewaarsku om steeds nie in die area te swem waar die krokodil rondbeweeg nie. Mense word ook gevra om nie na die krokodil te gaan soek nie.
Mense kan egter voortgaan om in die omgewing te hengel waar dit veilig is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button