Krokodiljag duur voort ná vermoede van 2de reptiel in Vaalrivier
’n Krokodilkenner glo 'n reptiel wat tans gesoek word is moontlik nie alleen nie, met tekens wat daarop dui dat daar dalk ’n tweede een in die Vaal-omgewing skuil.
Dit is nie net die smalbekkrokodil wat die Vaalrivier-inwoners in rep en roer het nie, want die krokodilvanger Charles van der Merwe van Crocodile DMV) vermoed daar is ’n Nylkrokodil in die water.
Sedert inwoners sowat twee weke gelede ’n Wes-Afrika smalbekkrokodil in die Old Willow-omgewing gewaar het, word die krokodil nou kort-kort naby die wateroppervlakte opgemerk.
Dit volg nadat die Smith-gesin Saterdag (29 Augustus) tydens ’n hengeluitstappie onder die Barrage (in die Vaal Eden-omgewing) ’n krokodil naby die oewer sien stroomop swem het. Dit is redelik ver van waar die krokodil voorheen opgemerk is.
Hoewel slegs één foto geneem kon word voordat die reptiel verdwyn het, glo van der Merwe dié spesifieke een is ’n Nylkrokodil en nie die oorspronklike smalbekkrokodil nie.
“Die grootte van die twee krokodille verskil duidelik. Dit is waarom ons nou nog twee vanghokke en kameras gaan opstel,” verduidelik van der Merwe.
Sy eerste twee vanghokke by Old Willow het tot dusver geen sukses opgelewer nie, omdat die reptiel die lokaas bly vermy.
Dié hokke word nou verskuif na die gebied waar die smalbekkrokodil onlangs gesien is.
Terug op die Vaal
Van der Merwe en sy kollega Robert Slaughter, albei van KZN, het vroeër vandag (1 September) met ’n boot uitgevaar in ’n poging om albei reptiele op te spoor. Hulle sal die soektog môre voortsit.
Die twee mans gaan die gebied vir twee dae, dag en nag, per boot patrolleer.
Leon Alberts van Joburg Tyres het ’n boot vir die operasie beskikbaar gestel.
Van der Merwe hou intussen die regstreekse kamerabeelde van die hokke deurlopend dop.
Vir hom is die reddingspoging ook ’n persoonlike uitdaging: “Ek wil graag help om die smalbekkrokodil te red. Hulle is baie skaars in Suid-Afrika en ek het nog nooit vantevore een van dié spesie gevang nie.”
Wanneer die smalbekkrokodil wel gevang word, sal die dier na Emerald Resort & Casino se Animal World verskuif word. Al die nodige permitte en dokumentasie is reeds in orde.
Dit is die beste opsie, aangesien die alternatief sou wees om die krokodil van kant te maak.
Die vanghokke sal egter in die rivier bly totdat die tweede krokodil ook opgespoor is.
Charles waarsku dat die soektog, met die rivier wat oor sowat 1 200km strek, maande kan duur en dat Geduld ’n deurslaggewend rol in die soektog speel.
’n Raaisel in die water
Hoe die krokodille in die Vaalrivier beland het, bly onseker.
Een teorie is dat hulle jare gelede tydens ‘n oorstroming vanaf ’n krokodilplaas in Deneysville ontsnap het.
Volgens van der Merwe is die Vaal-omgewing oor die algemeen eintlik te koud vir krokodille, wat beteken baie van hulle sou na ’n ander tuiste soek.
Veiligheid en waarnemings
Inwoners word gewaarsku om nie in die gebied te swem waar die krokodille beweeg nie en ook nie self na hulle te gaan soek nie. Hengelaars kan steeds op veilige plekke hul lyne natmaak.
Enige betroubare waarnemings (met ligging, tyd en indien moontlik ’n foto of video) kan op die Safety on Vaal WhatsApp-groep aangemeld word.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za