Dalk meer as een krokodil in Vaalrivier
Die krokodilvanger, wat sy kennis en toerusting gratis beskikbaar stel, keer vandag met nóg vanghokke na die Vaal terug.
VANDERBIJLPARK – Die ervare krokodilvanger Charles van der Merwe (Crocodile DMV) vermoed daar is tans meer as een krokodil in die Vaalrivier.
Sedert ‘n Wes-Afrika smalbekkrokodil die eerste keer deur inwoners in die Old Willow-omgewing gewaar is, hou nuwe aanmeldings die streek op sy tone.

Die jongste waarneming kom egter van die Smith-gesin, wat Saterdag 29 Augustus tydens ’n hengeluitstappie onder die Barrage (in die Vaal Eden-omgewing) ’n krokodil naby die oewer sien stroomop swem het. Dit is redelik ver van waar die krokodil voorheen opgemerk is.
Hoewel slegs één foto geneem kon word voordat die reptiel verdwyn het, glo Charles dié spesifieke een is ‘n Nylkrokodil en nie die oorspronklike smalbekkrokodil nie.
“Die grootte van die twee krokodille verskil duidelik. Dit is waarom ons nou nog twee vanghokke en kameras gaan opstel,” verduidelik Charles.
Sy eerste twee vanghokke by Old Willow het nog nie vrugte afgewerp nie, aangesien die reptiel nog nie die lokaas gevat het nie.
Dié hokke word nou nader verskuif na die gebied waar die smalbekkrokodil mees onlangs gesien is.

Terug in die Vaal
Charles en Robert Slaughter (albei van KwaZulu-Natal) keer vandag terug na die Vaal.
Hulle gaan vir twee dae, dag en nag, die Vaalrivier per boot patrolleer met die hoop om die diere op te spoor.
Leon Alberts van Joburg Tyres het ‘n boot vir die operasie beskikbaar gestel.
Charles hou intussen die regstreekse kamerabeelde van die hokke deurlopend dop.
Vir hom is die reddingspoging ook ‘n persoonlike uitdaging: “Ek wil graag help om die smalbekkrokodil te red. Hulle is baie skaars in Suid-Afrika en ek het nog nooit vantevore een van dié spesie gevang nie.”
Wanneer die smalbekkrokodil wel gevang word, sal die dier na Emerald Resort & Casino se Animal World verskuif word. Al die nodige permitte en dokumentasie is reeds in orde.
Dit is die beste opsie, aangesien die ander opsie is om die krokodil van kant te maak.
Die vanghokke sal egter in die rivier bly totdat die tweede krokodil ook opgespoor is.
Met ‘n rivier wat oor sowat 1 200 km strek, waarsku Charles dat dit maande kan neem en dat geduld deurslaggewend is.
‘n Raaisel in die water
Hoe die krokodille in die Vaalrivier beland het, bly onseker.
Een teorie is dat hulle jare gelede tydens ‘n oorstroming vanaf ‘n krokodilplaas in Deneysville ontsnap het.
Volgens Charles is die Vaal-omgewing oor die algemeen eintlik te koud vir krokodille, wat beteken baie van hulle sou ‘n ander tuiste soek.
Veiligheid en waarnemings
Inwoners word gewaarsku om nie in die gebied te swem waar die krokodille beweeg nie en ook nie self na hulle te gaan soek nie. Hengelaars kan steeds op veilige plekke hul lyne natmaak.
Enige betroubare waarnemings (met ligging, tyd en indien moontlik ‘n foto of video) kan op die Safety on Vaal WhatsApp-groep aangemeld word.
