Is híérdie tuinornament die Vaalrivier se 2de krokodil?

Gerugte dat twee krokodille in die Vaal-omgewing skuil, word bevraagteken nadat 'n foto wat die ronde doen, bevestig is as bloot 'n beeld van só reptiel.

Die vermoede dat daar meer as een krokodil in die Vaalrivier rondswem, word sterk betwyfel deur Andrew, die besturende direkteur van Vaal River Rats SA wat verkies om nie sy van te noem nie.

Vaalweekblad berig dat volgens hom is die krokodil wat aanvanklik in die Old Willow-omgewing opgemerk is, die afgelope paar weke nog nie weer gesien nie.

Hy meen dit is heel waarskynlik dieselfde reptiel wat Saterdag (29 Augustus) onderkant die Barrage in die Vaal Eden-omgewing naby Parys opgemerk is.

Andrew het dit ook onder Vaalweekblad se aandag gebring dat die foto van die krokodil wat so lekker op die oewer lê en bak, bloot ‘n tuinornament is. 

Iemand het dié foto na die waarnemingsgroep gestuur nadat dit waarskynlik vir die ware Jacob aangesien is.

Vanweë die swak gehalte van die foto kon daar nie dadelik gesien word dat dit ‘n lewelose ornament is nie, maar Andrew het intussen ‘n duideliker foto gestuur wat dit bo alle twyfel bewys.

Charles van der Merwe, die krokodilvanger wat tans in die Vaal is om ‘n ontwykende krokodil te vang, het toe self ondersoek ingestel en Andrew se bevinding beaam.

Die ornament wat glo as die ware Jakob aangesien is. Foto: Verskaf

Die krokodil wat die Smith-gesin egter Saterdag tydens ’n hengeluitstappie onderkant die Barrage stroomop sien swem het, is wel ‘n lewendige een.

Van der Merwe glo hierdie krokodil verskil van die smalbekkrokodil wat die eerste keer by Old Willow gesien is. Hy glo egter steeds dat daar meer as een krokodil in die rivier is.

Wees versigtig 

Mense word gemaan om steeds waaksaam te wees en nie op hulle eie na die krokodil te gaan soek nie. Hengelaars kan egter steeds op veilige plekke hulle lyne gaan natmaak.

Meld waarnemings aan

Slegs betroubare inligting (vergesel van die ligging, tyd en indien moontlik ‘n foto of video) moet op die Safety on Vaal WhatsApp-groep aangemeld word.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button