Krok op oewer van Vaalrivier ‘n tuinornament
Of daar nou een of meer krokodille in die Vaalrivier is, die publiek word gemaan om steeds uiters versigtig te wees.
VANDERBIJLPARK – Die vermoede dat daar meer as een krokodil in die Vaalrivier rondswem, word sterk betwyfel deur Andrew, besturende direkteur van Vaal River Rats SA (wat verkies om nie sy van te noem nie).
Volgens hom is die krokodil wat aanvanklik in die Old Willow-omgewing opgemerk is, die afgelope paar weke nog nie weer gesien nie.
Hy meen dit is heel waarskynlik dieselfde reptiel wat die afgelope Saterdag onderkant die Barrage in die Vaal Eden-omgewing naby Parys opgemerk is.
Andrew het dit ook onder Vaalweekblad se aandag gebring dat die foto van die krokodil wat so lekker op die oewer lê en bak, bloot ‘n tuinornament is.
Iemand het die foto na die waarnemingsgroep gestuur nadat dit waarskynlik vir die ware Jacob aangesien is.
Vanweë die swak gehalte van die foto kon daar nie dadelik gesien word dat dit ‘n lewelose ornament is nie, maar Andrew het intussen ‘n duideliker foto gestuur wat dit bo alle twyfel bewys.
Charles van der Merwe, die krokodilvanger wat tans in die Vaal is om die krokodil te vang, het toe self ondersoek ingestel en Andrew se bevinding beaam.

Die krokodil wat die Smith-gesin egter op 29 Augustus tydens ’n hengeluitstappie onderkant die Barrage stroomop sien swem het, is wel ‘n lewendige een.
Charles glo hierdie krokodil verskil van die smalbekkrokodil wat die eerste keer by Old Willow gesien is, en hy glo steeds dat daar meer as een krokodil in die rivier is.
Wees versigtig
Inwoners word gemaan om steeds waaksaam te wees en nie op hul eie na die krokodil te gaan soek nie. Hengelaars kan egter steeds op veilige plekke hul lyne gaan natmaak.
Meld waarnemings aan
Slegs betroubare inligting (vergesel van die ligging, tyd en indien moontlik ‘n foto of video) moet op die Safety on Vaal WhatsApp-groep aangemeld word.