Onwillige vlugteling: Boervrou vind haar lot in Fate, Amerika

’n Gesin wat verlede jaar van KZN na Amerika  verhuis het, het ’n nuwe lewe daar opgebou, maar nie alle Afrikaner-vlugtelinge het dieselfde ervaring nie.

Dit is ’n Saterdagoggend vroeg in September in Fate, ’n klein stad sowat 50km oos van Dallas in Texas. Klein in Amerikaanse terme, want daar woon net sowat 32 000 inwoners.

Ná dese is daar 32 004 inwoners, want Lielie (haar sosialemediagebruikersnaam), haar man Riaan en hulle twee seuntjies, Christiaan en Adriaan, het in dié stad gearriveer.

Die Alkema-egpaar is van die meer as 800 Suid-Afrikaanse vlugtelinge wat sedert  Februarie verlede jaar die deelstaat Texas hulle huis noem. Volgens The Dallas Morning News is Texas een van die gewildste bestemmings vir Afrikaner-vlugtelinge.

Een van die redes daarvoor, meen Lielie is omdat Texas se mense baie dieselfde waardes as Suid Afrikaners het: Geloof, familie en harde werk. Dit is hieroor dat veral die Afrikaanse vlugtelinge maklik tuis voel in Texas.

Hoewel dit baie droër in Texas as in sekere dele van Suid-Afrika is, veral KZN, waar hulle vandaan kom, het baie Suid-Afrikaners daarin geslaag om goeie werk te kry en ’n nuwe lewe buite Suid-Afrika te bou, sê sy.

Vir hulle gesin is dit ’n doodgewone Saterdagoggend: Die seuntjies speel games. Lianda blaas haar wilde bos blonde hare droog en Riaan doen nutswerkerkies in en om die huis. Later gaan hulle die naaste winkelsentrum besoek. Presies dieselfde as wat hulle op ’n Saterdagoggend in Suid-Afrika sou doen.

Lielie in Hollywood. Foto: Verskaf

Die grootste verskil is egter dat hulle nie bang is vir ’n helder-oordag motorkaping of protesoptogte wat handuit ruk nie.

Vrees dryf gesin om groener weivelde te gaan soek

Riaan en Lielie was nie ongelukkig in Suid-Afrika nie. Hulle het op ’n plaas in Port Edward geboer en hoewel hulle nie ryk was nie, het hulle genoeg gehad.

Maar hulle was bang.

Booswigte het drie keer by hulle plaashuis ingebreek. Gelukkig is niemand beseer nie en niks is gesteel nie, maar die trauma het die gesin nagte uit die slaap gehou. Selfs vir klein Adriaan. “Hy het soms bewend onder sy duvet gelê en gewonder of die kwaaddoeners weer gaan terugkom,” vertel Lielie.

Sy meen dat sy ná nege maande in Amerika steeds simptome van post-traumatiese stresversteuring ervaar. “Net nou die dag het die verkeerspolisie my afgetrek. Dit was sommer net ’n roetine-ondersoek, maar ek het begin bewe. Ek was doodbang.

“Ek het vir hom gesê ek gaan net my beursie uit handsak haal, want my bestuurslisensie is daar in. Die polisieman het gevra hoekom ek so bang is en waar ek vandaan kom. Ek het verduidelik dat ek van Suid-Afrika af kom. Hy het het gevra of ons polisie en regering korrup is, want dit is gewoonlik waarom mense bang is vir die polisie. Ek het besef dat die tipe gedrag nie normaal is nie.” `

Dit is ook die redes wat Lielie in haar aansoek om vlugtelingstatus in Amerika aangevoer het: Vrees en diskriminasie.

Sy ondersteun nie die ‘volksmoord-narratief’ nie, maar glo, soos Kolonel Chris Wyatt dat daar teen minderheidsgroepe gediskrimineer word.

“Jy kom dit net nie eers meer agter nie,” sê sy. “Wees net ’n bietjie eerlik met jouself. Daar word daagliks teen jou in Suid-Afrika gediskrimineer omdat jy deel is van ’n minderheidsgroep.”

Al is die gesin nou duisende kilometers van Suid-Afrika af, het hul nog nie van die Suid-Afrikaanse gunsteling, boerewors, vergeet nie. Foto: Verskaf

Die onwillige vlugteling

Lielie, wat in Suid-Afrika haar hand aan verskeie beroepe gewaag het, wou aanvanklik glad nie die opsie om in Amerika te gaan woon, oorweeg nie. Riaan wou egter gaan en het agter haar rug die vorms ingevul voordat hy verlede jaar die finale besluit geneem het om president Donald Trump se vlugtelingsaanbod te aanvaar.

Lianda het haar nommer sewe-skoen hard neergesit. Sy wou nie gaan nie. Daar was net té veel dinge wat haar in Suid-Afrika gehou het: Haar ma en broer se grafte. Haar uitgebreide familie – die wat nog lewe.  Die see en die son. Suid-Afrika se kleurvolle mense.

Maar die ewige vrees vir nog ’n plaasaanval, ’n gebrek aan werks- en ander geleenthede en ’n beter toekoms vir haar kinders was van die redes vir haar finale kopskuif na Amerika. “My kinders moet nog lewe. Dus het ek besluit: ‘Let’s do this.’

Net voor Kersfees het die gesin stil-stil, met vier tasse en hulle handbagasie, in Dallas aangekom. Gelukkig was dit een van Trump se rooi state, sê Lielie.

Lielie en haar gesin woon nou in Fate, ‘n klein stad in een van president Donald Trump se rooi state. Foto: Verskaf

 Rooi state is die deelstate in Amerika wat tydens verkiesings vir die Republikeinse Party gestem het.

“Die blou state, Amerikaanse deelstate wat gewoonlik vir die Demokratiese Party stem, is verskriklik duur,” sê Lielie.

Nie almal gaan met derduisende rande Amerika toe nie

Die eerste paar maande was egter nie maklik nie. Die federale toelaag vir vlugtelinge is volgens Lianda nie noodwendig genoeg om in duur state te oorleef nie. “Die toelaag is $2 450 (’n bietjie meer as R39 000). In Suid-Afrika is dit baie geld, maar dit is nie so baie in Amerika nie.

“Dié toelaag word gebruik om jou eerste drie maande se huur en deposito te betaal. Vlugtelinge kry ook mediese dekking en hulle help jou om werk te kry. Ná die drie maande om is, moet jy jouself kan onderhou, maar die regering sal jou nie sommer op jou eie los nie.”

Daar is vroeër vanjaar berig dat sommige Suid-Afrikaanse vlugtelinge, finansieel sukkel. “Dit is waar. Ons moet onthou dat almal ook nie met derduisende rande Amerika binnekom nie. Party vlugtelinge het niks in Suid-Afrika gehad nie. Baie Amerikaners het ook twee werke om kop bo water te hou.”

Luister hier:

Hervestiginsagentskappe

Luidens die Refugees Council USA se webblad is daar sowat 10 geregistreerde hervestigingsagentskappe in Amerika werksaam. Dié agentskappe ontvang geld van die federale regering om die vlugtelinge finansieel by te staan. 

Lielie het kontak gemaak met van die vlugteling- en hervestigingsagentskappe. Sy help nou ander vlugtelinge om die eerste paar maande in hulle nuwe land op hul voete te kom.

Die agentskappe, verduidelik sy, word deur ander vlugtelinge bestuur. In die verlede het van die agentskappe, erken sy, teen veral Afrikaner-vlugtelinge, gediskrimineer.

“Sommige het na bewering nie hul federale geld ontvang nie en ander het nie goeie verblyf gekry nie. Ek dink daar is nou egter ’n beter verhouding tussen die onderskeie vlugtelinge, ’n beter begrip van mekaar se behoeftes. Baie Suid-Afrikaners werk ook vir die agentskappe.”

Luister hier:

Vir Lielie en haar gesin is die gras dalk groener, maar vir ander vlugtelinge het die soet gou suur geword.

’n Vlugteling, wat anoniem wil bly, het onlangs op die Facebook-blad SA Refugees Support geskryf dat hulle terugkeer Suid-Afrika toe.  

“Voordat jy jou lewe in Suid-Afrika agterlaat, wil ek hê jy moet ons storie hoor.

Ons het verlede jaar as vlugtelinge na Amerika verhuis omdat ons vir ons lewens gevrees het en geglo het Amerika sal ons gesin ’n veiliger en beter toekoms bied.”

Sy skryf dat hulle aanvanklik hoopvol was dat hulle hulle lewens van vooraf kon bou. “My man het werk gekry wat ons huur, petrol en nutsdienste dek, maar ons maak steeds staat op koskaste om ons gesin te voed. Toe word ek ernstig siek en ek moes vir bykans drie maande die herstelpad geloop het.

“Ons kon ook nie aansoek doen vir die gesubsidieerde mediese fonds nie, want my man se inkomste was glo te hoog. Ek kan dus nie die spesialis sien wat ek nodig het nie, en die koste van mediese sorg is ’n voortdurende bekommernis.”

Sy skryf dat hulle nie alles verstaan het voordat hulle gegaan het nie: Daar is nie ’n ouma of tannie wat help as die kinders siek is nie. Daar is niemand waarop jy kan steun nie.

Sy sê dat hulle aanvanklik gesukkel het om werk te kry en dat haar man se salaris nie groot genoeg was om in al hulle behoeftes te voorsien nie.

“Ek weet mense skets dikwels ’n prentjie van ’n beter lewe in Amerika, en vir sommige mense is dit beslis die geval. Maar baie vlugtelinge kom hier aan en moet heeltemal van onder af begin. Wanneer die aanvanklike hulp en geld opraak, moet jy gereed wees vir wat daarna kom.

“Ek het vlugtelinge ontmoet wat verblyf met ander gesinne moes deel om finansieel te oorleef. Ons het ook gehoor van gesinne wie se kinders by die skool geboelie word en wat uiteindelik besluit het om hulle tuis te onderrig.”

Die gras is nie noodwendig groener aan die ander kant van die draad nie, soms is dit net anders, skryf sy. “Ons het Amerika toe gekom om ’n beter lewe te bou. Nou gaan ons huis toe, want ons het besef: Vir ons gesin is Suid-Afrika steeds ons huis.”

‘n Boer maak ‘n plan, al gaan dit broekskeur

Al is sommige Suid-Afrikaners se beursies maar dun in Amerika, maak hulle planne. In ‘die land van vryheid’ kan jy allerhande dinge doen – selfs jou bloedplasma skenk en daarvoor betaal word.

Dit is presies wat Lielie en Riaan gedoen het. Hulle het elk sowat $800 (net minder as R13 000) verdien.

“Ons het daarmee vir ons kinders Kersgeskenke en nog ’n magdom ander dinge gekoop. Ons het ook van die geld ’n deposito op ons eerste motor neergesit.”

Riaan word ’n pool boy

Lianda het intussen vir ’n werwingsmaatskappy, Thusa Inc., begin werk.

“Die maatskappy behoort aan ’n Suid-Afrikaner. Ons help ander andere Suid-Afrikaners om werksgeleenthede te kry. Jy gaan dalk nie dadelik die werk kry wat jy graag wil hê nie; baie van die poste is intreevlak, en sommige mense trek neuse daarvoor op. Ongelukkig kan jy nie sommer weer by ’n bestuurspos instap nie.”

Riaan werk as swembadhersteltegnikus en is binne ’n paar maande na ’n senior posisie bevorder. “Natuurlik het hy nooit gedink dat hy ’n pool boy sou word nie,” lag sy.

 “Riaan is ’n gekwalifiseerde voedsel- en drankbestuurder, maar hy kon ook nie in Suid-Afrika werk kry nie. Dié dat hy op my stiefpa se plaas gaan boer het…”

“In elk geval,” val Lianda haarself in die rede, “in Amerika kry ’n mens nie iets soos ’n Creepy Crawly nie. Riaan is die Creepy Crawly,” sê sy, “maar gelukkig hoef hy nie met klein broekies en ’n kaalbolyf swembaddens skoon te maak nie.”

Lielie van die plaas

Sy is ook ’n smaakmaker en maak ’n ekstra dollar of twee uit haar Facebook-blad: Lielie van die plaas in Amerika. Sy gee raad en deel op ’n humoristiese wyse die Alkema-gesin se lief en leed.

“Dit het toevallig gebeur. My uitgebreide familie wou in kontak bly en toe stel my niggie voor dat ek ’n Facebook-blad begin.” Voordat sy nog ‘Amerika’ kon sê, het sy ’n reusegevolg opgebou.

Ná ’n paar maande in Dallas het die gesin besluit om na Fate te verhuis, omdat hulle in hul harte steeds plattelanders is. “Die groot stad het vir Riaan hoofpyne gegee,” sê Lianda. Riaan ry elke dag tussen Fate en Dallas – min of meer so 40km heen en weer.

Haar huis is haar paleis

“Kyk net ons mooi huis – vier slaapkamers en twee badkamers. En twee instapkaste. Een vir my en een vir Riaan,” jil sy en swaai haar selfoonkamera na die hoofslaapkamer.

Die huis, wat presies soos die ander huise in die straat lyk, kos hulle sowat $1 950 (sowat R31 600) per maand. ’n Stywe bedrag, maar hulle kan dit bekostig.

“Ons was ná drie maande nie meer afhanklik van die federale geld afhanklik nie. Ons verdien nie een regtig groot salarisse nie, maar ons kan hier leef.”

Huis, paleis. Die Alkema-gesin se huis in Fate. Foto: Verskaf

Die kombuis is gevul met ’n dubbeldeur-yskas, wasmasjien, tuimeldroër, mikrogolfoond en skottelgoedwasser. Alles splinternuut. “Die basiese kombuisware kom saam met die huise – dus hoef ons dit nie te koop nie.”

Lielie vertel dat hulle aan die begin van hulle verblyf gereeld die Amerikaanse kosspense – beter bekend as die food pantries – besoek het. Dit is plekke waar mense verniet kan inkopies doen. “Daar is oorgenoeg, van vleis en vis tot eiers. Die Amerikaanse regering laat jou nie sommer in die steek nie – anders as in Suid-Afrika sal jy nooit honger gaan slaap nie, al leef jy nie in oorvloed nie.

“Nadat ons begin het om salarisse te verdien, het ons nie meer by die kosspense inkopies gedoen nie.”

Amerika, Fate, is nou haar tuiste. In Fate het Lielie haar lot gevind, en sy sal nooit weer na Suid-Afrika terugkeer nie.

Amerika: Die land van drome

Caxton Network News publiseer oor die volgende paar weke ’n reeks artikels oor Suid Afrikaners se ervaring in Amerika. Moenie die volgende hoofstuk misloop nie.

Lees vorige berigte hier:

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button