Is die leeu wat naby Meyerton gewaar is steeds op vrye voet?

’n Leeu wat die Vaaldriehoek op hol gehad het, is volgens die polisie opgespoor, maar dae later is daar steeds geen bevestiging dat hy gevang is nie.

Waar is die leeu, en op grond waarvan het die polisie verlede week aangekondig dat hy opgespoor is?

Dit is die vrae waarop Vaalweekblad steeds antwoorde probeer kry nadat die polisie verlede Donderdag (15 Oktober) in ’n amptelike verklaring gesê het die dier is opgespoor en reëlings is afgehandel om hom veilig te hervestig.

Die Vaalweekblad berig dat luidens die verklaring die polisie nie gesê het dat die leeu reeds gevang is nie. Dit het egter ook nie verduidelik waar hy opgespoor is, wanneer hy laas gesien is of hoe sy bewegings gemonitor word terwyl  hervestiging gereël word nie.

Nuwe inligting skets egter ’n onsekere prentjie.

Volgens ’n bron naby aan die soektog was die dier teen Maandag (19 Oktober) steeds nie gevang nie en was sy huidige ligging onbekend.

Die bron sê die laaste waarneming waarvan sy bewus is, was verlede Donderdag. Volgens haar is die dier daarna nie weer op die kameras,  wat vir die soektog opgestel is, opgemerk nie. Daar was ook geen aanduiding dat hy die voerplekke besoek het nie.

Dié besonderhede kon nog nie onafhanklik bevestig word nie. Dit laat egter ernstige vrae ontstaan oor die polisie se aankondiging en die gebrek aan verdere deursigtigheid.

Opgespoor beteken nie gevang nie

Vaalweekblad het reeds Vrydagoggend (16 Oktober) aan sers. Shaan Motsapi gevra waar die leeu opgespoor is, of hy gevang is, waarheen hy verskuif sou word en of sy eienaar geïdentifiseer is.

Motsapi het aangedui dat hy sou terugvoer gee.

Later dieselfde dag het die koerant uitdruklik gevra of die polisie ’n bevestigde ligging het, wanneer die dier laas positief waargeneem is en of die vorige dag se verklaring steeds akkuraat is.

Motsapi het dié aand gevra dat die koerant geduldig op amptelike bevestiging of kommunikasie wag.

Teen druktyd was daar steeds geen duidelikheid nie en die vrae was onbeantwoord.

Waarskuwings bly staan

Intussen het DBVest, wat Redan bestuur, huurders in ’n boodskap gewaarsku dat die leeu nog nie gevang is nie en dat bewegings- en toegangsbeperkings ingestel is.

Volgens Vaalweekblad se bron was die aandklokreël steeds van krag.

DBVest het ook gewaarsku dat vals waarnemings en KI-gegenereerde foto’s die soektog bemoeilik omdat die grondspan elke beweerde waarneming moet ondersoek.

Die bron sê gevaarlike terrein, waaronder sinkgate in die gebied waar die dier vermoedelik beweeg het, bemoeilik ook die soektog te voet. Vaalweekblad kon dié terreintoestande en die uitwerking daarvan op die operasie nog nie onafhanklik bevestig nie.

Die eerste berigte oor die leeu het op 14 Oktober tot ’n soektog met die polisie se honde-eenheid, hommeltuie en ander rolspelers gelei.

Bloufontein Wildlife Park het destyds verklaar dat al sy diere verantwoord is en dat die leeu nie aan die park behoort nie.

Die publiek wag steeds op ’n duidelike, bygewerkte antwoord: Is die leeu gevang? Indien nie, weet die soekspan waar hy is, en watter veiligheidsmaatreëls geld nog?

Totdat daar bevestiging is dat die dier veilig gevang en verwyder is, behoort inwoners nie die aankondiging dat hy  ‘opgespoor’ is as ’n teken te beskou dat die gevaar verby is nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Die berig is deur 'n joernalis van die Vaalweekblad geskryf.
Back to top button