Redan se leeu: Waar is die antwoorde?
Die polisie het verlede week aangekondig die leeu is opgespoor. Maar dae later is daar steeds geen bevestiging aan Vaalweekblad dat die dier wel gevang is nie, terwyl ’n bron beweer niemand het in hierdie stadium ‘n idee waar die leeu is nie.
REDAN – Waar is die leeu, en op grond waarvan het die polisie verlede week aangekondig dat hy opgespoor is?
Dit is die vrae waarop Vaalweekblad steeds antwoorde probeer kry nadat die polisie op 15 Oktober in ’n amptelike verklaring gesê het die dier is opgespoor en reëlings is afgehandel om hom veilig te hervestig.
Die verklaring het nie gesê die leeu is reeds gevang nie. Dit het egter ook nie verduidelik waar hy opgespoor is, wanneer hy laas gesien is of hoe sy bewegings gemonitor word terwyl die hervestiging gereël word nie.

Nuwe inligting skep ’n veel onsekerder prentjie.
Volgens ’n bron naby aan die soektog was die dier teen Maandag 19 Oktober steeds nie gevang nie en was sy huidige ligging onbekend.
Die bron sê die laaste waarneming waarvan sy bewus is, was Donderdag. Volgens haar is die dier daarna nie weer op die kameras wat vir die soektog opgestel is, opgemerk nie. Daar was ook geen aanduiding dat hy die voerplekke besoek het nie.
Daar is steeds geen fotografiese bewys aan Vaalweekblad verskaf dat die leeu gevang is nie.
Dié besonderhede kon nog nie onafhanklik deur Vaalweekblad bevestig word nie. Dit laat egter ernstige vrae ontstaan oor die polisie se aankondiging en die gebrek aan verdere openbare duidelikheid.
Opgespoor beteken nie gevang nie
Vaalweekblad het reeds Vrydagoggend 16 Oktober aan sers. Shaan Motsapi gevra waar die leeu opgespoor is, of hy gevang is, waarheen hy verskuif sou word en of sy eienaar geïdentifiseer is.
Motsapi het aangedui dat hy sou terugvoer gee.
Later dieselfde dag het die koerant uitdruklik gevra of die polisie ’n bevestigde ligging het, wanneer die dier laas positief waargeneem is en of die vorige dag se verklaring steeds akkuraat is.
Motsapi het gevra dat die koerant geduldig op amptelike bevestiging of kommunikasie wag.
Teen die skryf van hierdie berig het Vaalweekblad steeds nie antwoorde op dié kernvrae ontvang nie.
Waarskuwings bly staan
Intussen het DBVest, wat Redan bestuur, huurders in ’n boodskap gewaarsku dat die leeu nog nie gevang is nie en dat bewegings- en toegangsbeperkings ingestel is.
Volgens Vaalweekblad se bron was die aandklokreël steeds van krag.
DBVest het ook gewaarsku dat vals waarnemings en KI-gegenereerde foto’s die soektog bemoeilik omdat die grondspan elke beweerde waarneming moet ondersoek.
Die bron sê gevaarlike terrein, waaronder sinkgate in die gebied waar die dier vermoedelik beweeg het, bemoeilik ook die soektog te voet. Vaalweekblad kon dié terreintoestande en die uitwerking daarvan op die operasie nog nie onafhanklik bevestig nie.
Die eerste berigte oor die leeu het op 14 Oktober tot ’n soektog met die polisie se honde-eenheid, hommeltuie en ander rolspelers gelei.
Bloufontein Wildlife Park het verlede week bevestig dat geen van sy diere vermis word nie en dat die leeu nie aan die park behoort nie.
Die publiek wag steeds op ’n duidelike, antwoord: Is die leeu gevang? Indien nie, weet die soekspan waar hy is, en watter veiligheidsmaatreëls geld nog?
Totdat daar bevestiging is dat die dier veilig gevang en verwyder is, behoort inwoners nie die aankondiging dat hy “opgespoor” is as ’n teken te beskou dat die gevaar verby is nie.
