Nog geen geregtigheid na moord op geliefde kerkman van Parys

Die mans wat daarvan verdink word dat hulle Kenny Browne met ‘n plastieksak versmoor het vir ‘n selfoon en ‘n skootrekenaar, is sedert 2024 in aanhouding.

Meer as twee jaar ná die moord op die 72-jarige Kenny Browne, wat met sy lewe geboet het vir ‘n paar besittings, is die verhoor van die twee mans wat in verband met die sinnelose moord aangekeer is, steeds nie afgehandel nie.

Blonde Motale en Piet Mbele, wat kort ná die moord in hegtenis geneem is, sal eers weer volgende jaar, 14 April, in Kroonstad voor die hof verskyn, berig Parys Gazette.

Albei is van die Tumahole-woonbuurt, en is sedert hul arrestasie in aanhouding nadat die hof borgtog geweier het.

Bewyse en vorige veroordelings van die verdagtes

Browne is op 3 Maart 2024 deur sy moordenaars met ‘n plastieksak versmoor.

Margie Frare, ‘n gemeentelid van die Metodistekerk, het hom dood in sy huis in Fochstraat aangetref nadat sy daardie oggend onraad vermoed het toe hy nie, soos gewoonlik, by die kerk opgedaag het nie.

Hy het altyd gehelp met die reëlings vir die erediens. Browne se selfoon, asook die selfoon van ‘n ander bejaarde vrou van Parys wat in haar huis oorval en aangerand is, is na bewering in die verdagtes se besit gevind.

Die polisie het ook beslag gelê op Browne se skootrekenaar en elektroniese ware wat oënskynlik deur die verdagtes verkoop is.

Die hof het tydens die formele borgtogaansoek van Motale en Mbele destyds gehoor dat albei ‘n lang lys vorige veroordelings het.

Hartseer van die gemeenskap: ‘Hy het nie verdien om so te sterf nie’

Browne se dood het die gemeenskap van Parys platgeslaan. Oor die jare was hy besonder geliefd, veral by die Metodistekerk, waar hy baie betrokke was. Hy was ook ‘n lekeprediker.

Die Here en die kerk was sy lewe.

Cathy du Plessis het in 2024, nadat die nuus van sy moord bekend geword het, gesê dat Kenny ‘n hart so groot soos die wêreld gehad het en ‘n kind van die Here deur en deur was. “Hy het nie verdien om so te sterf nie.”

Browne was nooit getroud nie en het alleen gewoon. Die huis waarin hy vermoor is, is sedertdien gesloop.

Flinke polisie-ondersoek lei tot hegtenisname

Motale en Mbele is ná knap speurwerk deur speurders van Parys, lede van Misdaadvoorkoming en Misdaadintelligensie in hegtenis geneem.

Die ondersoekbeampte in die moordsaak was adjudant-offisier Jaco Venter, terwyl sersant Tami Nqai die huisrooftsaak ná die aanval op die bejaarde vrou ondersoek het. Die huisrooftsaak kom weer in Maart 2027 voor.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.
Back to top button