Noordwes-boer ervaar terugslag ná wrede plaasaanval
Donovan Marx se familie sê hulle is dankbaar vir almal se ondersteuning en vra dat Suid-Afrikaners aanhou bid terwyl hy steeds intensiewe mediese behandeling ontvang ná hy ernstig beseer is in 'n plaasaanval.
Die familie van Donovan Marx het hul opregte dank uitgespreek teenoor die talle Suid-Afrikaners wat hulle sedert die aanval op 28 Oktober met boodskappe van bemoediging, gebede en praktiese ondersteuning bygestaan het.
Die familie het gister (3 November) in ’n verklaring November gesê dat die oorweldigende ondersteuning hulle diep geraak het, berig Potchefstroom Herald.
Te midde van hierdie moeilike tyd het Donovan egter ’n mediese terugslag gehad.
Hoewel sy toestand aanvanklik ná noodchirurgie gestabiliseer het, het die terugslag verdere ondersoeke en behandeling genoodsaak.
Volgens die familie ontvang Donovan steeds intensiewe mediese sorg en is hy tans stabiel. Sy herstelproses bly egter ingewikkeld en uitdagend, en sy mediese span monitor sy toestand deurlopend.
Die familie het die publiek gevra om aan te hou bid sy herstel, asook vir wysheid en leiding vir die mediese span wat hom behandel.
“Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons is vir elke gebed, boodskap, oproep en gebaar van liefde wat ons ontvang het nie. Ons beleef tans ’n ongelooflik moeilike tyd, maar die ondersteuning van soveel mense gee ons krag en moed om elke dag aan te pak,” lui Louise Marx se boodskap namens die familie.
Die familie het ook hul waardering uitgespreek teenoor die mediese personeel wat Donovan versorg, die lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat by die ondersoek betrokke is, asook die talle individue en organisasies wat hulp aangebied het.
Vier beskuldigdes bly in aanhouding
Intussen het die vier beskuldigdes wat in verband met die aanval in hegtenis geneem is, Dinsdag in die Ventersdorp-landdroshof verskyn.
Hulle staan tereg op ses aanklagte, waaronder roof, aanranding, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook die onwettige rig van ’n vuurwapen.
Die saak is tot 13 November uitgestel vir verdere verrigtinge in verband met borgtog. Geen borgtog is toegestaan nie en die beskuldigdes bly in aanhouding.
Die familie het hul vertroue uitgespreek dat die strafregtelike proses met die nodige erns en deeglikheid hanteer sal word en uiteindelik tot geregtigheid sal lei.
Hulle het ook ’n beroep op die publiek gedoen om nie ongeverifieerde inligting of bespiegelings oor die ondersoek, die beskuldigdes of Donovan se gesondheid te versprei nie.
Vir nou bly die familie se fokus op Donovan se herstel.
“Ons vertrou op die Here vir krag, wysheid en genesing, en ons hou vas aan die hoop dat Don deur hierdie moeilike tyd sal kom. Baie dankie aan elke Suid-Afrikaner wat saam met ons staan,” lui Louise se boodskap.
Tydlyn: Donovan Marx-plaasaanval
Woensdag 28 Oktober: Donovan Marx word op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp geskiet, gesteek en gemartel. Sy ore word afgesny en sy plaaswerker word vasgebind. Die aanvallers vlug met sy rooi Isuzu-bakkie. Marx word in Mediclinic Potchefstroom opgeneem.
Donderdag 29 Oktober: Die gemeenskap loods ’n beloning van R40 000 vir inligting wat tot inhegtenisnemings kan lei.
Vrydag 30 Oktober: Die beloning word tot R200 000 verhoog terwyl die polisieondersoek voortduur.
Saterdag 31 Oktober: Twee verdagtes word in die Ventersdorp-omgewing in hegtenis geneem.
Sondag 1 November: Nog drie verdagtes word in Promosa aangekeer. Vier vuurwapens, klerasie en juweliersware word teruggevind. Marx se gesteelde bakkie word in Eleazer opgespoor.
Dinsdag 3 November: Vier verdagtes verskyn in die Ventersdorp-landdroshof op ses aanklagte. Die vyfde verdagte sal na verwagting as staatsgetuie optree. Gemeenskapslede en boere betuig buite die hof hul steun aan Marx en sy familie. Die vier beskuldigdes bly in aanhouding.
Vrydag 13 November: Die vier beskuldigdes se borgaansoek sal na verwagting in die Ventersdorp-landdroshof aangehoor word.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za