Familie van Donovan Marx dankbaar vir oorweldigende ondersteuning ná mediese terugslag
Te midde van die moeilike tyd waardeur die familie gaan, het daar egter ook ’n terugslag in Donovan se herstelproses gekom.
Die oorweldigende ondersteuning van mense regoor Suid-Afrika raak die familie van Donovan Marx diep.
Die familie het in ’n mediaverklaring op Dinsdag, 3 November hul opregte dank uitgespreek teenoor almal wat sedert die aanval op 28 Oktober boodskappe van bemoediging, gebede en praktiese ondersteuning aangebied het.
Te midde van die moeilike tyd waardeur die familie gaan, het daar egter ook ’n terugslag in Donovan se herstelproses gekom.
Hoewel hy aanvanklik ná noodchirurgie gestabiliseer is, het hy intussen ’n mediese terugslag ervaar wat verdere ondersoeke en behandeling genoodsaak het.
Volgens die familie ontvang Donovan steeds intensiewe mediese sorg en is hy tans in ’n stabiele toestand. Sy herstelproses bly egter ingewikkeld en uitdagend, terwyl sy mediese span sy toestand deurlopend monitor.
Die familie vra dat die publiek sal aanhou bid vir Donovan se herstel, asook vir wysheid en leiding vir die mediese span wat hom behandel.
“Woorde kan nie beskryf hoe dankbaar ons is vir elke gebed, boodskap, oproep en gebaar van liefde wat ons ontvang het nie. Ons beleef tans ’n ongelooflik moeilike tyd, maar die ondersteuning van soveel mense gee ons krag en moed om elke dag aan te pak,” lui Louise Marx se boodskap namens die familie.
Sy het ook gevra dat mense veral sal bid vir Donovan se herstel en vir die dokters wat belangrike besluite oor sy behandeling moet neem.
Die familie het verder hul waardering uitgespreek teenoor die mediese personeel wat Donovan versorg, die Suid-Afrikaanse Polisiediens se lede wat by die ondersoek betrokke is, asook die talle individue en organisasies wat hulp aangebied het.
Intussen het die vier beskuldigdes wat in verband met die aanval in hegtenis geneem is, Dinsdag in die Ventersdorp-landdroshof verskyn.
Hulle staan tereg op ses aanklagte, waaronder roof, aanranding, poging tot moord, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, asook die onwettige rig van ’n vuurwapen.
Die saak is tot 13 November vir verdere verrigtinge in verband met borgtog uitgestel. Geen borgtog is toegestaan nie en die beskuldigdes bly in aanhouding.
Die familie het hul vertroue uitgespreek dat die strafregtelike proses met die nodige erns en deeglikheid hanteer sal word en uiteindelik tot geregtigheid sal lei.
Hulle doen ook ’n beroep op die publiek om nie ongeverifieerde inligting of bespiegelings oor die ondersoek, beskuldigdes of Donovan se gesondheid te versprei nie.
Vir nou bly die familie se fokus op Donovan se herstel.
“Ons vertrou op die Here vir krag, wysheid en genesing, en ons hou vas aan die hoop dat Don deur hierdie moeilike tyd sal kom. Baie dankie aan elke Suid-Afrikaner wat saam met ons staan,” lui Louise se boodskap.
TYDLYN: DONOVAN MARX-PLAASAANVAL
Woensdag, 28 Oktober: Donovan Marx word op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp geskiet, gesteek en gemartel. Sy ore word afgesny en sy plaaswerker vasgebind. Die aanvallers vlug met sy rooi Isuzu-bakkie. Marx word in Mediclinic Potchefstroom opgeneem.
Donderdag, 29 Oktober: Die gemeenskap loods ’n beloning van R40 000 vir inligting wat tot inhegtenisnemings lei.
Vrydag, 30 Oktober: Die beloning word tot R200 000 verhoog terwyl die polisieondersoek voortduur.
Saterdag, 31 Oktober: Twee verdagtes word in die Ventersdorp-omgewing in hegtenis geneem.
Sondag, 1 November: Nog drie verdagtes word in Promosa aangekeer. Vier vuurwapens, klerasie en juweliersware word teruggevind. Marx se gesteelde bakkie word in Eleazer opgespoor.
Dinsdag, 3 November: Vier verdagtes verskyn in die Ventersdorpse landdroshof op ses aanklagte. Die vyfde verdagte sal na verwagting as staatsgetuie optree. Gemeenskapslede en boere betuig buite die hof hul steun aan Marx en sy familie. Die vier verdagtes bly in aanhouding.
Vrydag, 13 November: Die vier verdagtes se borgaansoek sal na verwagting in die Ventersdorpse landdroshof aangehoor word.



