Potchefstromer haal bestemming ná uitdagende trap vir ’n goeie doel
Shaun Leach het 2 600km van Beitbrug tot Blouberg op sy fiets deurgebring ten bate van dierewelsynorganisasies.
Né 2 600km op sy fiets het die Potchefstroomse fietsryer, Shaun Leach, vanoggend by sy bestemming in Blouberg in die Kaap gearriveer.
Volgens Potchefstroom Herald het Leach hierdie projek, ten bate van PAWS Haven en ander dierewelsynorganisasies, op 21 Maart aangepak. Hy het by Beitbrug op die SA- en Zimbabwe-grens saam met vriende begin en vanaf Potchefstroom ’n solorit aangepak wat hom deur verskillende dorpe, soos De Aar, Ceres, Sutherland en ander, op ’n onvergeetlike roete geneem het. Hy het daagliks oor 13 dae ongeveer 200–230km afgelê, wat ’n ongelooflike prestasie is.
Leach se uithouvermoë en doelgerigtheid het hom gedryf om die 2 600km-rit te voltooi, omdat hierdie projek nie oor hom gaan nie, maar om bewusmaking te skep. Kos en benodigdhede vir diere in nood was Leach se groot doel.
Die goeie doel
Sedert hy die projek aangekondig het, het talle mense reeds skenkings gemaak, wat aanhou instroom het terwyl hy besig was om sy fiets te trap.
“Die lekkerste deel van die rit was die laaste stuk. Ek was geseën met die mooi uitsig en het ook wind van agter gehad,” vertel hy vanuit Blouberg tydens Le Tour Cycle se regstreekse uitsending op Facebook.
“Die moeilikste aspek was die wind van voor by Tankwa in die Karoo. Een ding wat ek besef het, is dat ’n mens enigiets kan regkry as jy jou kop by ’n doel sit en daarop fokus. Hou net aan vorentoe beweeg.”

Leach bedank sy vrou, Michelle, hulle dogter, familie en vriende wat hom ondersteun en almal op hoogte gehou het gedurende sy rit.
“Daar is so ’n groot nood by PAWS Haven en ander soortgelyke organisasies. Ek het ’n Staffie in De Aar op straat gesien wat soveel liefde en aandag nodig het. Dit het my ’n bietjie gebreek. Elke blikkie of sak kos, kombers en tyd vir die diere maak ’n verskil – al is dit net om met hulle te gaan speel en ’n draai saam met hulle te loop.”
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



