Potch fietsryer voltooi 2600km roete vir PAWS
Shaun se uithouvermoë en doelgerigtheid het hom gedryf om die 2 600 km-rit te voltooi, omdat hierdie projek nie oor hom gaan nie, maar om bewusmaking vir diere te skep.
Na 2 600 kilometer op sy fiets het die Potchefstroomse fietsryer, Shaun Leach, vanoggend (Donderdag, 2 April) by sy bestemming in Blouberg in die Kaap gearriveer.
Shaun het hierdie projek, ten bate van PAWS Haven en ander dierewelsynorganisasies, op 21 Maart aangepak. Hy het by Beitbrug op die SA- en Zimbabwe-grens saam met vriende begin en vanaf Potchefstroom ’n solorit aangepak wat hom deur verskillende dorpe geneem het, soos De Aar, Ceres, Sutherland en ander op ’n onvergeetlike roete. Hy het daagliks oor 13 dae ongeveer 200–230 km afgelê, wat ’n ongelooflike prestasie is.

Shaun se uithouvermoë en doelgerigtheid het hom gedryf om die 2600 km-rit te voltooi, omdat hierdie projek nie oor hom gaan nie, maar om bewusmaking te skep. Kos en benodigdhede vir diere in nood was Shaun se groot doel.

Sedert Shaun die projek aangekondig het, het talle mense reeds skenkings gemaak, wat aangehou instroom het terwyl hy besig was om sy fiets te trap.

“Die lekkerste deel van die rit was die laaste stuk. Ek was geseën met die mooi uitsig en het ook wind van agter gehad,” vertel hy vanuit Blouberg tydens Le Tour Cycle se lewendige uitsending op Facebook.
“Die moeilikste aspek was die wind van voor by Tankwa in die Karoo. Een ding wat ek besef het, is dat ’n mens enigiets kan regkry as jy jou kop by ’n doel sit en daarop fokus. Hou net aan vorentoe beweeg.”

Shaun bedank sy vrou, Michelle, hul dogter, familie en vriende wat hom ondersteun en almal op hoogte gehou het gedurende sy rit.
“Daar is so ’n groot nood by PAWS Haven en ander soortgelyke organisasies. Ek het ’n Staffie in De Aar op straat gesien wat soveel liefde en aandag nodig het. Dit het my ’n bietjie gebreek. Elke blikkie of sak kos, kombers en tyd vir die diere maak ’n verskil – al is dit net om met hulle te gaan speel en ’n draai saam met hulle te loop.”




