Atletiek-fiasko: Nuwe datum vir SA skole-kampioenskappe ná aanvanklike kansellasie
'n Parlementêre portefeuljekomitee-lid sê dat 'n nuwe datum vir 'n nasionale atletiek-byeenkoms min gerusstelling bring omdat atlete en hulle ouers reeds gely het onder swak bestuur.
Die skielike kansellasie van die nasionale skoleatletiekkampioenskappe, gevolg deur die aankondiging van ’n nuwe datum, het die krisis rondom die byeenkoms verder verdiep. Daar blyk ook sterk aanduidings te wees dat talle atlete moontlik gaan onttrek.
In ’n onderhoud met George Herald het Joe McGluwa, die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur, die situasie as ’n ‘deurmekaarspul’ en ’n ‘skreiende skande’ bestempel. Hy waarsku dat die skade reeds veel verder strek as bloot ’n datumverskuiwing.
“Wanneer datums verskuif en kommunikasie gebrekkig is, verloor ons nie net deelnemers nie, maar ook vertroue,” sê McGluwa.
Die SA skole-kampioenskappe sou aanvanklik van verlede Woensdag tot Saterdag in Rustenburg aangebied word.
“Sport is nie bloot ’n speletjie nie, dit bied aan jongmense die geleentheid om hul talente te wys, gemeenskappe saam te snoer en ’n gevoel van trots te bou.”
Hoewel ’n nuwe datum vir die byeenkoms intussen vasgestel is vir 29 April tot 2 Mei by die Pilditch-stadion in Pretoria, bring dit volgens hom min gerusstelling.
“Dit gaan nie net oor ’n datumverskuiwing nie, maar ook oor vergoeding. Ons kinders, ouers en gemeenskappe het reeds swaar gely onder swak bestuur,” sê hy.
Atlete kan wegval
Die onsekerheid en finansiële verliese laat baie gesinne nou huiwer om weer geld aan reis en verblyf te bestee, iets wat deelname direk kan raak.
“Ons loop die risiko dat van ons beste jong atlete eenvoudig nie meer sal deelneem nie. Dit is ’n direkte gevolg van die wanbestuur wat ons hier sien,” waarsku McGluwa.
Hy sê hy het Vrydag van die kansellasie verneem deur ’n ongedateerde omsendbrief van die departement van sport se direkteur-generaal.
“Ek het aanvanklik gedink dit is ’n grap. Eers nadat dit op ons parlementêre WhatsApp-groep bevestig is, het ek besef dit is wel eg.”
Volgens hom was daar geen vooraf waarskuwingstekens dat logistieke probleme die byeenkoms sou ontspoor nie. “Daar is ’n maand gelede besoek by die Royal Bafokeng-stadion afgelê waartydens instandhoudingsprobleme uitgewys is. Dit is onduidelik wat sedert die besoek gebeur het.”
Gebrek aan beplanning en samewerking
McGluwa plaas die skuld vierkantig op ’n gebrek aan beplanning en samewerking tussen die betrokke rolspelers, waaronder die nasionale departement van sport, kuns en kultuur, die departement van basiese onderwys en verskeie skole-sportliggame.
“Die huidige verwikkelinge wys duidelik op gebrekkige beplanning en samewerking. Ons verwag dat die betrokke strukture dringend die situasie regstel en dat atlete en ouers met respek en duidelikheid ingelig word,” sê hy.
Hy beklemtoon dat die nuwe datum nie ’n verdere bron van chaos moet wees nie, maar ’n geleentheid om orde te herstel.
“Skolesport is ’n fondament van ons kultuur. Ons kan nie toelaat dat dit deur swak bestuur ondermyn word nie.”
Eis vir aanspreeklikheid en optrede
McGluwa beklemtoon dat aanspreeklikheid nie langer uitgestel kan word nie. Hy hoop dat die minister van sport, Gayton McKenzie, sy woorde met dade sal rugsteun ná sy waarskuwing dat ‘koppe gaan rol’.
McKenzie was Maandag in George en het in ’n onderhoud met George Herald-joernalis Kristy Kolberg dié waarskuwing gerig toe hy oor die kansellasie uitgevra is.
Volgens McGluwa is die kwessie van aanspreeklikheid al herhaaldelik op die agenda geplaas, maar sonder daadwerklike gevolg.
“Die politieke wil ontbreek. Intussen word dieselfde foute herhaal en sit ons telkens met dieselfde probleme.”
Hy wys daarop dat sowat R245m vir sportontwikkeling beskikbaar gestel is, en meen daar is geen verskoning vir die huidige situasie nie.
“Met sulke befondsing behoort hierdie tipe mislukking eenvoudig nie voor te kom nie.”
Volgens hom is dit nou van kardinale belang dat duidelike rolle omskryf, beplanning verbeter en werklike aanspreeklikheid ingestel word, anders sal die siklus homself bly herhaal, met atlete wat telkens die prys betaal.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.



