12 jaar tronkstraf vir Lesotho-burger wat veiligheidswag doodskiet, boer wond
Die skieter is op die toneel vasgetrek nadat boere hom agternagesit, die vuurwapen herwin en hom aan die polisie oorhandig het.
Die man wat ‘n veiligheidswag doodgeskiet en ‘n boer van Fouriesburg, in die Oos-Vrystaat, gewond het, is gister in die Bethlehemse landdroshof tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Parys Gazette berig Thabo Tankiso Hlompho (29), ‘n burger van Lesotho, is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die tragiese voorval het op 12 Desember 2024 gebeur toe ‘n boer op sy kringtelevisiekameras gesien het hoe ‘n man sy eiendom onwettig betree. Hy het sy privaat sekuriteitsdiens in kennis gestel. ‘n Veiligheidswag, die 56-jarige Andrew Grant Turner, het op die oproep gereageer en die verdagte genader. Tydens die poging tot arrestasie het die beskuldigde die wag oorrompel, hom ontwapen en hom noodlottig gewond. Turner is op die toneel dood verklaar.
Die boer wat op sy kameras gesien het wat gebeur het onmiddelllik ander boere sowel as die plaaslike polisie in kennis gestel. Terwyl die beskuldigde probeer vlug het, het hy een van die reagerende boere in die been geskiet. Die gewonde boer is vir mediese behandeling na die hospitaal geneem.
Die oorblywende boere het daarin geslaag om die verdagte vas te trek, die gesteelde vuurwapen te herwin, en om hom aan die polisie oor te gee met hulle aankoms.
Die ondersoek is gelei deur speurders van die Thabo Mofutsanyana-distrik. Hlompho het skuld beken.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het na die vonnisoplegging, die vinnige reaksie van die gemeenskap en die toegewyde werk van die ondersoekspan geloof.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za