Arbeider geskiet, 3 gearresteer na mislukte plaasaanval in Mpumalanga

Die plaasaanvallers - wat glo plase teiken vir geld - is met behulp van plaaslike boere en die SAPD betrap.

‘n Plaasarbeider is gister kort na 17:00 in sy nek op die plaas van Jan Uys in die Stoffbergdistrik in Mpumalanga geskiet, nadat hy vermoedelik een van die drie aanvallers herken het.

Die plaaswerker het glo ‘n naam uitgeroep, waarna hy trompop deur die bende geskiet is.

Uys wat in sy stoor – ‘n paar tree vanwaar die arbeiders woon – bedrywig was, het die skoot gehoor en alarm gemaak.

“Ek het uitgegaan en gesien hoe spat die werkers uitmekaar na die skoot.”

Hy vermoed die aanvallers op die werkers se blyplek toegeslaan het om hulle vas te bind, sodat hulle Uys in die stoor kon oorval.

Uys het boere van die omgewing van die aanval in kennis gestel waarna boere opgeruk, en verskeie uitgangsroetes gemonitor het.

Hyself is agter die aanvallers aan.

Die aanvallers is by Laersdrift gewaar waar hulle van die pad gedwing is. Al drie is gearresteer.

Tydens ondervraging het hulle glo erken dat hulle plase teiken vir geld.

Hulle het ook glo erken dat hulle vir Uys ‘gekom het’.

Daar is aan die Middelburg Observer genoem dat drie vuurwapens, wat moontlik polisiewapens is en waarvan die reeksnommers afgevyl is, in hulle besit gevind.

Volgens Uys is verdere inligting rondom die aanval nog onduidelik, maar hy het groot lof vir die polisie wat boere blitsig bygestaan het.

Volgens Uys het die plaaswerker die aanval oorleef maar baie bloed op die toneel verloor. “Hy is kritiek beseer,” voeg hy by.

Uys bedank ook die boere wat hulp verleen het.

Pronsiale polisie het nie teen die tyd wat die storie gepubliseer is, kommentaar gelewer nie.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button