Bittereindersleier kry borg ná beweerde mokerhou in kroeg

'n Man moes steke kry nadat hy glo deur Francois van der Merwe met ’n brandewynbottel oor die kop geslaan is.

Bittereindersleier Francois van der Merwe is gister op borgtog van R1 000 vrygelaat nadat hy Dinsdagmiddag by die Wonderboom-polisiestasie gearresteer is.

Lumka Mahanjana, ‘n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in Gauteng, het aan Pretoria Rekord bevestig Van der Merwe sal weer op 29 Januarie 2024 in die hof moet verskyn.

Polisiewoordvoerder Adjudant-Offisier Johan van Dyk het aan die koerant bevestig dat volgens ’n verklaring is die slagoffer die 25-jarige Etienne Pretorius.

Van Dyk het verduidelik die hofverskyning van Van der Merwe spruit uit ’n voorval op 2 Desember net na middernag in die Vellies-kroeg in Capital Park.

Die klag is aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Volgens Van Dyk het Pretorius ’n jaareindfunksie vir sy werk in die kroeg bygewoon.

“Volgens Pretorius het Van der Merwe hom met vrae genader. Pretorius het verklaar dat Van der Merwe onder die invloed van drank en arrogant was,” sê Van Dyk.

Hy het bevestig dat Van der Merwe volgens Pretorius se klag hom met ’n 750ml Richelieu-bottel oor die kop geslaan het.

Hiervoor moes Pretorius steke kry en het hy ’n klag aanhangig gemaak.

Van der Merwe is die direkteur van die beweging wat hulself op hulle sosiale media beskryf as: “Die beweging wat onbeskaamd alleenlik vir Afrikaner en Boere belang baklei.”

Die beskuldigde was nie bereid om ’n onderhoud aan Rekord toe te staan nie.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button