Die Amerikaner wat wortel geskiet het in SA
Terwyl baie Suid-Afrikaners Amerika as die land van drome beskou, glo die country-sanger Dean Chansy dat Suid-Afrika ’n plek is waar geleenthede en drome gebou kan word.
Hy dreun die restaurant binne.
Howdy, cowboy.
Sy snor lyk soos ’n nuwe besem: Dik en staalhard. Sy oë blink grys-blou onder die ruie wenkbroue wat in alle windrigtings staan. Hy het ’n denim- en pofferonderbaadjie aan. Aan sy heup is ’n rewolwer.
Sy aksent is pure Texas: Stadig en uitgerek, met lang vokale en cowboy-klanke.
Al wat anders is aan hierdie tipiese Texas-cowboy, is dat hy nie in Amerika is nie maar by Skool-op-Wiele, een van die Voortrekkermonument se restaurante in Pretoria, sit.
Van die land van drome na Suid-Afrika
Vir baie Suid-Afrikaners is Amerika die land van drome. Dié plek waar ’n mens weer kan begin, geld kan maak en ’n beter lewe kan bou.
Dean Chansy, anders as Suid-Afrikaners wat Amerika as die beloofde land sien, kan egter nie genoeg van Suid-Afrika kry nie. Hy beskou SA as die land van melk en heuning.
Die Amerikaanse country-sanger het vir hom ’n meenthuis naby die Voortrekkermonument gekoop en is sedert 2020 tussen drie en ses maande van die jaar in Suid-Afrika.
Hy besoek die land dus nie vir ’n vinnige tjoef-tjaf tussen Tafelberg en die Kruger Nasionale Wildtuin nie. Hy kom terug omdat hy hier wil wees.
In sy hand is ’n swart pet waarop staan: It ain’t easy to kill a boer. In sy ander hand is ’n sleutelhouer met Texas se wapen. Sy wortels stewig geplant op twee vastelande.
Kyk na die musiekvideo hier:
Texas, maar met doringdraad
Chansy het ’n sagte plekkie vir veral Afrikaners omdat hy homself in baie van hulle herken.
Geloof. Familie. Harde werk. Plaaslewe. Vuurwapens. ’n Sterk gevoel van behoort aan ’n plek.
Toe hy Suid-Afrika die eerste keer in 1989 besoek en tussen Afrikaners op plase gewerk het, het hy waardes herken waarmee hy self grootgeword het.
“Die eerste keer toe ek hier gewerk het, het ek ’n bakkie geleen en na Kimberley gery. Die landskap het my baie aan Texas herinner.”
Windpompe. Droë vlaktes. Doringdraadheinings. Oop veld.

Hy het selfs ’n lied geskryf met die titel Sounds Like Texas To Me.
“In die lied vra ek: ‘Gaan jy Sondae kerk toe? Dank jy God vir jou kos? Dra jy ’n vuurwapen?’ Dit is so tipies van Texas se mense.”
Daardie gevoel het oor dekades heen verdiep. Dit is waarom sy liedjies, sy kritiek en selfs sy omstrede uitsprake oor Suid-Afrika so sterk op Afrikaners fokus.
’n Ander oorlog
Op 17 het hy by die Amerikaanse weermag aangesluit – Richard Nixon was toe die president. Hy was die volgende drie jaar deel van die 86-bataljon se valskermtroepe.
Dit was gedurende die Viëtnam-oorlog, maar sy ma, wat ’n sendeling was, het gebid dat hy nie in Viëtnam ontplooi word nie. God het haar gebede beantwoord, sê hy.
Nou sê hy hy sien ’n ander oorlog wat hy beskryf as rassediskriminasie teenoor wit Afrikaners en ander minderheidsgroepe in Suid-Afrika.
‘Waar was hierdie mense in 1992?’
Chansy sê hy verstaan die bekommernisse wat die burgeregte-organisasie AfriForum oor die toekoms van minderheidsgroepe in die land uitspreek.
Maar dit is veral die verandering wat hy in sommige Afrikaners se omstandighede sien, wat hom pla.
“Ek het met baie Afrikaners gepraat, veral middel- tot hoërklas Afrikaners, wat voel dat Afrikaners wat nie werk nie, bloot lui is.
“My vraag aan hulle is: Hoe het die hardwerkendste groep mense wat ek in 1989 en 1992 geken en ontmoet het, verander in hierdie sogenaamde lui mense wat op straat bedel?”
Hy vra wat oorbly van iemand as jy hulle werk, motor en vermoë om ’n salaris te verdien van hulle wegvat.
“Ek daag enige persoon uit wat dink mense op die straathoeke is daar omdat hulle daar wil wees, om eers alles wat hulle het te verloor.”
Lees ‘n Afrikaanse spyskaart
Chansy kan nie Afrikaans praat nie, maar hy kan die Afrikaans-only spyskaart van die restaurant lees.
“I want an americano, please,” bestel hy met ’n bietjie twang. “And a plate of chips.”
Die slap chips word in dik skywe voor hom neergesit. Hy druk een vinnig in sy mond en brand sy tong.
“Nee, wat. Suid-Afrikaners se chips is baie beter as Amerika s’n.”
Die miljoenêr wat terugkom
Chansy het sy eie besigheid in Amerika gehad en, sê hy, goed gedoen.
Hy was een van Amerika se miljoenêrs, sê hy, want in Amerika kan enige hardwerkende persoon ryk word.
“Ek was in 2019 reg om af te tree toe ek saam met my seun na Suid-Afrika gekom het. Hy het pas klaargemaak met sy studies en ek wou vir hom dié land, wat ek so lief het, kom wys.”
Toe breek Covid-19 uit en Chansy sit soos ’n hoender in die spreekwoordelike hok vas.
Hy het reeds gehoor hoe Julius Malema en sy EFF-ondersteuners Kill the Boer sing. Hy sê dit het hom geruk.
“Dit het my laat dink aan ’n alternatief vir die liedjie. Terug in Amerika het ek aan die lirieke vir It ain’t easy to kill a boer geskryf.”
Hy het die lied onder sy Afrikanervriende op WhatsApp versprei.
Toe begin dit so vinnig soos ’n skinderstorie van WhatsApp na ander sosialemedia-kanale versprei. Van vriende na boere. En skielik het baie mense geweet wie Dean Chansy is.
“Mense het my begin vra om terug te kom Suid-Afrika toe. Ek het besluit om meer tyd hier deur te bring. My seun het die familiebesigheid oorgeneem.”
Hy het meer liedjies geskryf en in Suid-Afrika opgetree, selfs op Geloftedag by Bloedrivier.
“Die enigste Engelsman wat al ooit daar opgetree het,” spog hy.
Chansy se liedjies gaan oor sy ervaring in Suid-Afrika, sy vriendskappe en die swaarkry van Afrikaners, soos hy dit beskou.
Die lirieke van He’s a Boer, The Children of 464 Men en A Boer Makes a Plan dra swaar aan emosie en ellende.
Kyk na die musiekvideo hier:
“Die sanger Adam Tas het eenkeer vir my gesê: ‘Dean, as ek die soort liedjies geskryf het wat jy skryf, sou ek nie meer ’n loopbaan gehad het nie.’
“Maar ek kan dit doen. Die ergste wat met my kan gebeur, is dat die ANC-regering my uit die land kan skop,” lag hy.
’n Buitestander se blik
Chansy proe-proe aan nog ’n slap chip en bestel ’n tweede americano. Van al die gepraat is sy stem krakerig en die koffie yskoud.
“Swart Ekonomiese Bemagtiging, ja,” sê Chansy. “As ’n buitestander sien ek wat in dié land aangaan.”
Sommige mense wat hy ontmoet het, glo daar is ernstige probleme met onbevoegde aanstellings in sekere sektore.
“Een persoon werk hom dood, terwyl drie of vier ander mense net nie hul kant bring nie.”
Hoewel Chansy kritiek uitspreek oor sekere beleidskwessies, sê hy hy probeer steeds die kompleksiteit van Suid-Afrika verstaan.
Luister hier na hoe die liedjie He is a boer ontstaan het:
“Ek dink ek verstaan dele van Suid-Afrika, maar beslis nie alles nie. Die Afrikaners kan net nie saamstaan nie. Daar is net te veel ideologiese verskille.”
Geloof, genade en empatie
Hy vertel hy is dikwels geskok deur die gebrek aan empatie wat hy binne gemeenskappe ervaar.
“Ek het eendag geld aan ’n Afrikanerman by ’n verkeerslig gegee. Ek was saam met ’n baie prominente Afrikaner in die kar. Hy was vies vir my omdat ek ‘dwelmgeld’ aan die man gegee het.”
Vir Chansy is sy Christelike geloof belangrik.
“Ons help mense nie omdat hulle dit verdien nie. Ons help mense omdat genade beteken dat niemand eintlik iets verdien nie.
“Ek glo ons is almal God se kinders. Ek glo ons is almal net twee geslagte weg daarvan om swart of wit te wees.”
Volgens hom deel baie Afrikaners en Texane soortgelyke waardes.
“Dit is die waardes waarmee ek grootgeword het. En dit is ook hoekom ek dikwels tuis voel tussen Afrikaners.”
‘Ek probeer stories vertel’
Hoewel Chansy erken dat sommige Amerikaners meer bewus geraak het van Suid-Afrika ná die internasionale debat oor plaasaanvalle en vlugtelinge, meen hy die meeste Amerikaners dink steeds te min oor Suid-Afrika. “Daar is wel Amerikaners wat begin vrae vra.”

Steun Chansy ook president Donald Trump se gebruik van die term ‘volksmoord’ in verband met Suid-Afrika?
Hy antwoord versigtig. “Ek dink dit is ’n moeilike woord. Sodra mense die woord volksmoord hoor, dink hulle onmiddellik aan die Holocaust. Ek dink die werklike probleem is geweld, misdaad en die gevoel dat sommige mense nie beskerm word nie.”
Chansy meen Suid-Afrika se probleme is ingewikkeld en emosioneel belaai, maar hy wil nie met sy musiek haat aanblaas nie.
“Ek probeer stories vertel. Ek wil hê mense moet luister.”
Dit is lente in Pretoria. Die blare waai groen teen die grond vas.
Chansy gryp na een van die blare wat in sy gesig waai. Sy vingers streel onbewustelik oor die ragfyn lyne.
Hy kyk op. “Ek het verlief geraak op Suid-Afrika en ek dink dis hoekom ek aanhou terugkom.”
Amerika: Die land van drome
Caxton Network News publiseer oor die volgende paar weke ’n reeks artikels oor Suid Afrikaners se ervaring in Amerika. Moenie die volgende hoofstuk misloop nie.
Lees vorige berigte hier:
- 10 000 South African refugees and counting: The American who became their voice
- South African refugee’s hopes for a new life end in tragedy
- Onwillige vlugteling: Boervrou vind haar lot in Fate, Amerika
- Diamond in America: Former Mbombela municipal manager helps SA businesses in ‘land of plenty’
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za