Drie ongelukke vind op een oggend plaas in en om Middelburg

Opruimingswerk het reeds vroeg vanoggend begin nadat drie ongelukke rondom Middelburg plaasgevind het.

Nie minder as drie padongelukke nie het Dinsdagoggend in en om Middelburg in Mpumalanga plaasgevind.

Die eerste voorval het reeds vroegoggend gebeur toe ’n bakkie die pad by die N4 naby Wonderfontein verlaat en in ’n sloot beland het. Die ongelukstoneel is opgeruim en niemand is in die ongeluk beseer nie.

Omstreeks 04:50 het nóg ‘n ongeluk plaasgevind, dié keer op die N4 onder die brug by die Alzu Petroport.

Na wat verneem word het een vragmotor in die geel lyn gestaan, waarna ‘n ander vragmotor van agter af in hom vasgery het. Die ongeluk het in die rigting van Nelspruit plaasgevind.

Geen ernstige beserings is aangemeld nie.

Teen 08:00 was Van Wettens-insleepdienste steeds op die toneel om die vragmotors uit die weg te ruim. Volgens Van Wettens sou dit nog ‘n rukkie neem om die toneel op te ruim en om die vragmotors weg te sleep.

Motoriste is aangeraai om by die naaste afrit af te draai en om oor die brug te ry om weer op die N4 in die rigting van Nelspruit te kom.

Die derde ongeluk het omstreeks 05:35 op die hoek van Oranje- en John Magagulastraat in Middelburg plaasgevind. ‘n Motor en ‘n bakkie was betrokke in dié ongeluk.

Leonie Victor, ‘n ooggetuie, het aan Middelburg Observer gesê die bakkie het byna tot teen haar motor gerol. Sy kon daarin slaag om haar motor vinnig in trurat te sit.

Sy sê die motor het in Oranjestraat gery terwyl die bakkie vanaf Keiskammastraat in die rigting van Middelburg beweeg het. By die kruising het die twee voertuie gebots.

Die bestuurder van die motor het beserings opgedoen en is per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button