Dubbele trauma vir Middelburg gesin na broer in ongeluk sterf én boewe hul huis teiken
Daar word vermoed dat inbrekers hul huis geteiken het terwyl die gesin in Brandfort was om hul ouers te ondersteun na hul seun se afsterwe.
‘n Gesin van Middelburg moes hoor dat hul huis in Middelburg erg beskadig is deur inbrekers terwyl hulle nog besig was om die skoknuus van ‘n geliefde se afsterwe te probeer verwerk.
Carmen Hewgill sê dat haar broer Dohan Swanepoel (24) Saterdagoggend in ‘n ongeluk buite Theunissen, oppad na Brandfort gesterf het.
Terwyl sy en haar kinders by haar ouers in Brandfort was om hulle te ondersteun, het haar man Ian haar gister (Maandag) laat weet dat daar boewe probeer het om by hul huis in Dennesig in te breek deur die dakteëls weg te skuif.
“Ek is sielsmoeg,” sê Carmen.
Hewgill en haar kinders is steeds by haar ouers maar haar man Ian moes terugkeer Middelburg toe vir werk.
Gisteraand, tydens ‘n hewige donderstorm, het hy gehoor dat dit inreën op die plafon in hul dogter se kamer. Hy het dadelik die luik gaan oopmaak om te sien waar die dak lek, waarop hy opgemerk het dat dat die dakteëls weggeskuif is.
Die buurman het hom meegedeel dat hy Saterdagnag die honde hoor blaf het en na buite is en ook op die dak met die flits gelig het, maar niks kon sien nie.
Die vermoede bestaan dat Ian se terugkeer die boewe skrik op die lyf gejaag het, of dat hulle beplan het om Sondagnag terug te keer en toe besef het dat daar iemand tuis is, omdat daar niks uit die huis gesteel is nie.
Carmen meld dat dit die tweede keer is dat boewe dakteëls by hul huis uithaal.
“In Desember het dit ons R28 000 gekos om die plafon en die area om die kaggel reg te maak nadat hulle ook in ons dak was en dit ingereën het!”
Sy en die kinders het op daardie stadium ook vir ’n paar dae by haar ouers gekuier en was Ian alleen tuis. Hulle vermoed die inbrekers het gedink daar is niemand by die huis nie.
Ian het die nag ook iets gehoor en ondersoek ingestel, waarop die inbrekers weer deur die dak gevlug het. Die volgende dag na die reën, het hulle die inbrekers se gereedskap op die dak gekry.
Carmen het gesê dat hulle ’n plaaslike sekuriteitsgroep gevra het om na hul huis om te sien as Ian Brandfort toe gaan vir Dohan se begrafnis. Die begrafnis is Saterdag om 11:00 uit die Brandford NG Kerk.
- Swanepoel was Saterdagoggend op pad terug vanaf Theunissen na Brandfort, nadat hy wegneemetes gaan koop het.
Carmen het haar jonger boetie beskryf, ‘as die man met die grootste skouers en grootste hart. Hy was die life van elke party’.
Swanepoel word oorleef deur sy ouers en Carmen en haar gesin.
- Daar is in Springbokstraat (Kanonkop) ook by buitegeboue deur die dak ingebreek, waar ’n platskerm televisiestel en fiets gesteel is.
Read original story on www.citizen.co.za