Ek hoop om weer huis toe te kom – André de Ruyter
Die voormalige Eskom-hoof is positief dat die sogenaamde ‘korruptes’ by Eskom sal boet, en dat dit dan weer veilig vir hom sal wees om terug te kom Suid-Afrika toe.
André de Ruyter het onlangs vanuit die VSA gesels oor sy lewe daar as akademikus, die veiligheidsrisiko wat veroorsaak dat hy tans nie in Suid-Afrika kan woon nie, die toekoms van Eskom en kragvoorsiening in Suid-Afrika en sy droom om uiteindelik weer ‘huis toe’ te kom.
Die voormalige hoof van Eskom is inderhaas uit vrees vir sy veiligheid uit Suid-Afrika weg nadat hy in Februarie skokonthullings op My Guest Tonight with Annika Larsen op e.tv gemaak het oor die beweerde grootskaalse korrupsie by Eskom en hooggeplaasdes se betrokkenheid daarby.
De Ruyter werk tans as gasdosent by die Yale Universiteit en sê dat dit ’n verligting is om in ’n land te wees waar niemand hom herken nie, en dat hy in vrede met die bus kampus toe kan ry sonder om aan veiligheid hoef te dink.
Hy is van mening dat daar sedert hy by Eskom weg is, ’n astronomiese hoeveelheid diesel verbrand word om beurtkrag te verminder, en spreek sy kommer uit dat dit sy tol gaan eis op die oopsiklusgasturbines wat eintlik net ontwerp is vir kragopwekking in piektye of om as buffer op te tree wanneer verskeie steenkoolkragstasies saam breek, en nie om basisvrag te lewer nie.
“Ek hoop die gasturbines word beskerm, dat daar genoeg diesel in die tenks is en dat instandhouding gedoen word.”
Alhoewel hy sy tyd in Amerika baie geniet, sê De Ruyter dat Suid-Afrika sy tuiste is en dat hy tog hoop om weer eendag terug te keer. Hy is positief dat die veiligheidsrisiko wat dit vir hom inhou om op eie bodem te wees, met tyd sal afneem.
Met ’n onlangse besoek om ’n familiebegrafnis by te woon is hy aangeraai om nie sonder ekstra sekuriteit rond te beweeg nie.
Hy is egter van mening dat die risiko drasties sal verminder soos die gereg sy gang gaan en die skuldiges aan die pen ry.
Kyk hier na die volledige onderhoud op Nuuspod:
Read original story on www.citizen.co.za