Hofsaak poog om nuus toeganklik te maak vir alle mense met gehoorgestremdheid
Meeste mense met gehoorverlies kan nie Gebaretaal verstaan nie en maak op byskrifte staat om belangrike gebeure te volg.

Terwyl die meerderheid van Suid-Afrikaners ongestoord na belangrike nuusgebeure en aankondigings deur die regering op televisie kyk, is daar ‘n regsproses aan die gang om veral minder gegoede mense met gehoorverlies toegang tot in-tydse oop byskrifte te gee sodat hulle ook sulke gebeure kan volg.
Die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede (NCPD) sê die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) se Kode vir Mense met Gestremdhede 2021 is nie inklusief genoeg nie en sluit die meerderheid mense met ‘n gehoorgestremdheid uit.
’n Gebraretaaltolk word gebruik om televisienuusuitsendings en staatsaankondigings aan Gebaretaalgebruikers uit te beeld, maar die NCPD sê dat die meerderheid mense met gehoorverlies, soos een uit drie mense ouer as 65 en twee uit drie mense ouer as 70, nie Gebaretaal verstaan nie. Gehoorverlies raak 20% van die wêreld bevolking (volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie se verslag oor gehoor) en ’n geskatte 12 miljoen mense in Suid Afrika word deur gehoorverlies geraak.
Die NCPD is sedert 2015 besig om te onderhandel sodat mense met gehoorverlies toegang tot in-tydse oop byskrifte (OB) tydens belangrike uitsendings kan verkry. OB is byskrifte wat altyd vertoon en nie aan of af gesit kan word nie.
Okosa het egter ten spyte van die onderhandelinge in April 2021 ‘n kode uitgereik wat vereis dat die uitsaaibedryf van geslote byskrifte (GB) gebruik maak. GB is byskrifte wat aan en af gesit kan word. Hierdie byskrifte is net bekombaar deur middel van tegnologie soos ‘n dekodeerder of die internet, iets wat vir die meerderheid van Suid Afrikaners onbekostigbaar is.
Die NCPD sê dat OB nie bykomende tegnologie benodig nie en noodsaaklik is vir mense met gehoorverlies wat nie Gebaretaal-magtig is nie.
Hulle meen dat die verpligte gebruik van GB in plaas van OB ‘n ‘ontoelaatbare diskriminasie is teenoor persone met gehoorgestremdheid wat gesproke taal in plaas van Gebaretaal as primêre vorm van kommunikasie gebruik’.
Die NCPD het ‘n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria gebring om die Suid Afrikaanse kommunikasie owerheid te dwing om hul beleid te verander. Die partye se regspanne moet op 31 Augustus vergader waarna daar moontlik ‘n hofdatum vasgestel sal word.
Vier saam Loslitdag op 1 September
Die NCPD bemoei hom met die belange van mense met gestremdhede, soos om seker te maak dat mense met ‘n gehoorgestremdheid wat nie Gebaretaalmagtig is nie, ook toegang tot belangrike inligting het.
Die jaarlikse Loslitdag, wat op 1 September gevier word, samel fondse in om hulle in staat te stel om hul mandaat uit te voer.
Hierdie jaar se Loslitdag-tema is #ShareASmile wat daarop gemik is om positiwiteit en goedhartigheid teenoor mense met gestremdhede te bevorder.
Suid-Afrikaners en maatskappye word uitgedaag om hul ondersteuning te wys deur ‘n plakker (fisies of digitaal) te koop, ‘n foto te neem met jou breedste glimlag en jou plakker daarop en dit op sosiale media te deel met die hutsmerke #ShareASmile en #CasualDay.
Jy kan plakkers teen R20 by die volgende plekke te koop:
- Organisasies van en vir mense met gestremdhede
- Regeringsdepartemente
- Skole
- Alpha Pharm
- BKB
- ESKORT
- Clicks
- JAM Clothing
- Jet
- Loot Online
- The Hub Finbond
- Toys R Us
Jy kan ook ‘n digitale plakker op die Loslitdag webblad koop.
Om meer uit te vind oor Loslitdag besoek enige van hul sosiale media platforms:
Read original story on www.citizen.co.za