Kaapse digter berispe Gayton McKenzie oor stand van kunste in die land

’n Jong vrou van George het ’n protesgedig aan die Departement van Sport, Kuns en Kultuur gestuur waarin sy hulle uitdaag om nie van die siel van die kunste te vergeet nie.

’n Jong Afrikaanse digter van George in die Wes-Kaap het skerp reaksie op sosiale media ontlok nadat sy verlede week ’n protesgedig aan Minister Gayton McKenzie gestuur het waarin sy hom ‘daaraan herinner dat kunstenaars die siel van die land aanmekaar hou’.

Ná bykans tien dae het Sumayyah Petersen (22), wat na haarself as ‘Die Godmother van Afrikaans’ verwys, nog nie ’n antwoord van hom ontvang nie.

“Hy [Gayton McKenzie] skryf elke dag op sy sosiale media-blaaie en lewer vinnig kommentaar op die land se sportprestasies, maar steur hom glad nie aan die kunstenaars se stemme nie.”

Die rou gedig, getitel, Ek is hier om jou te herinner, lig die snydende kontras tussen die befondsing vir sport teenoor die van die kunste in die land op eerlike wyse uit.

Moenie van ons vergeet nie, Gayton. Grafika: Geraldine Reynecke

Petersen het die gedig – wat sy as ’n noodkreet beskou – geskryf nadat sy die algemene verval van onder andere die gemeenskapsteater in George gesien het.

Baie van haar kunstenaarsvriende worstel volgens haar met ernstige emosionele en finansiële druk, sê sy. “Daar is net nie meer geleenthede of geld om hulle kuns te beoefen nie,” sê sy. “Almal sê altyd vir kunstenaars dat ons regte werk moet kry, maar niemand sê ooit vir sportsterre dat ‘hul nie regte werk’ doen nie,” sê sy.

Haar ‘hittige woede’ spruit ook uit die feit dat McKenzie se departement onlangs R31 miljoen aan die reis- en verblyfkostes aan sy afvaardiging na vanjaar se Fifa Wêreldbeker-sokkertoernooi bestee het.

“Te veel organisasies wat ons tale, geskiedenis en erfenis bewaar, oorleef slegs deur opoffering, vrywilligerswerk en genade. Intussen blyk dit asof die grootste deel van die openbare aandag en energie op sport val.”

Sy voel sport verdien ondersteuning, maar kuns en kultuur verdien dit net so. “’n Nasie het nie net kampioene op die sportveld nodig nie; hy het ook kampioene van sy tale, sy stories en sy erfenis nodig,” sê sy.

Volgens Petersen – wat haar sterk vir Afrikaans en die rol van die taal in die land beywer – sê sy het nooit probeer om verdeeldheid te saai nie. “Sommige mense het die gedig deur ’n politieke bril gelees en ander het my persoonlik begin aanval, maar min het stilgestaan by die vraag wat ek eintlik wou vra: ‘Is ons kuns en kultuur besig om vergete te raak?’”

Kunste kry ’n klein gedeelte van die begrotingskoek

Vir die 2026/27-boekjaar is ‘n totale basislynbegroting van R6.617 miljard aan die Departement van Sport, Kuns en Kultuur toegewys.

Die nasionale begroting prioritiseer sportontwikkeling op voetsool- en skoolvlak deur massadeelname en direkte ondersteuning aan nasionale federasies.

Ongeveer R1.9 miljard is aan erfenisbevordering en -bewaring toegewys wat nasionale museums, erfenisterreine, nasionale argiewe, naamsveranderinge en taalrade dek.

Slegs R1.2 miljard is aan The Mzansi Golden Economy toegewys wat veronderstel is om werkskepping en entrepreneurskap in die kunste te stimuleer.

“Maar waar gaan die geld heen?” vra Petersen. “Ek sien die geld nie in die ontwikkeling van nuwe filmprojekte of teaterproduksies nie. Ek sien nie hoe die geld aangewend word om die verval van gemeenskapsteaters te keer nie.”

‘Vyandskap’ tussen departement en kunstenaars

Sedert McKenzie in 2024 as minister van sport, kuns en kultuur in die Kabinet aangestel is, is die verhouding tussen hom en die kunstenaarsgemeenskap in die land maar louwarm.

Sommige het geglo dat hy sy beloftes soos dat meer geld in die begroting bewillig sou word vir die ontwikkelling van kunste, sou nakom, terwyl ander van die begin af geglo het ‘dat hy net Bafana Bafana se vuvuzela sou blaas’.

Die aktrise Lizz Meiring was een van die wat van die begin af geen ooghare vir McKenzie gehad het nie. “Hy voel absoluut vere vir die kunste,” sê sy. “Maar dit is ook nie ‘n nuwe ding nie; ek is al 55 jaar in die vermaakbedryf en nie een minister (nie eers tydens die apartheidsjare) het aansienlike gedeeltes van hul begroting aan die kunste gewy nie.

“Ons [kunstenaars] kan nie meer op die departement staatmaak vir befondsing nie. Ons moet onsself aan die gang hou, die kunste aan die gang hou.”

Wat Mckenzie betref, sê sy, het hy beloftes aan kunstefeeste gemaak wat hy nie nagekom het nie.

Een van sy beloftes was byvoorbeeld dat kunstefeeste steeds subsidies van die staat sal ontvang.

Hy het egter later verklaar dat belastingbetalers se geld nie langer gebruik mag word om gevestigde, jarelange kunstefeeste onbepaald te subsidieer nie. Hy het aangevoer dat hierdie organisasies korporatiewe borge moet kry in plaas daarvan om permanent op die staat te leun.

Hy het kort na sy aanstelling die ou befondsingstruktuur wat vir nasionale kunstefeeste gebruik is, opgeskort. Hy het organiseerders meegedeel dat hulle eerder vir eenmalige toelaes deur The Mzansi Golden Economy-fonds moet aansoek doen.

‘Onmoontlik om befondsing te kry’

Johan van der Merwe van Leftfoot Theatre Productions sê egter dat dit bykans onmoontlik is om deur die ‘regte kanale’ befondsing vir teaterproduksies te kry. “Ons het al ’n paar keer deur die administratiewe rompslomp probeer gaan om befondsing te kry, maar dit vat weke om al die vorms in te vul. Aan die einde van die dag was dit nie die moeite werd nie. Ons het ook nooit terugvoer ontvang nie.”

Van der Merwe en sy span bring so tussen agt en twaalf produksies per jaar op die planke. “Daar is wel Afrikaanse organisasies wat teaterproduksies befonds. As dit nie vir hulle was nie, sou dit ’n moeilike pad gewees het om groter Afrikaanse produksies die lig te laat sien.”

Caxton Network News het gedurende die week verskeie oproepe na die minister se kantoor gemaak en ook ’n e-pos navraag gestuur. Ten tye van publikasie, het hulle nog nie op die navrae gereageer nie. Sodra kommentaar ontvang word sal dit bygewerk word.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button